[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Lysters

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Lysters/lysteragtiges
'n Olyflyster in Plettenbergbaai, Suid-Afrika.
Wetenskaplike klassifikasie
Domein:
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Suborde:
Familie:
Turdidae

Rafinesque, 1815
Genera

Omtrent 20, sien teks

Lysters of Lysteragtiges (Turdidae) is 'n familie van voëls wat aan die orde van sangvoëls (Passeriformes) behoort. Dit is 'n groot familie van middelgrootte voëls wat besonders goed kan sing.[1]

Die voëlfamilie lysteragtiges sluit sowat 300 spesies klein tot middelgroot voëls in wat feitlik oral ter wêreld, maar veral in Afrika, aangetref word. Bekende verteenwoordigers in Suider-Afrika is egte lysters, janfrederiks en wagters, terwyl die nagtegaal en die rooiborste bekende Europese verteenwoordigers is.

Die lysteragtiges sluit 'n groot aantal uiteenlopende voëlspesies in: sommige is boomlewend, ander grondlewend en talle van hulle is goeie singers. Oor die algemeen wissel die lengte van die voëls tussen 15 en 30 cm en die meeste is vaalkleurig, hoewel sommige opvallende rooi, geel, oranje of blou vlekke vertoon. Die kleurskakerings van die mannetjies en die wyfies verskil dikwels baie, en in sommige gevalle is voëls van dieselfde spesie in verskillende streke verskillend gekleur.

Die snawels van lysteragtiges is betreklik lank en slank en effens geboë. Hulle vreet insekte, wurms, klein weekdiere en dikwels ook vrugte en bessies. Die neste is komvormig en die drie tot ses eiers het dikwels 'n blouerige of blougroenerige skynsel en is gespikkel. Die kuikens is altyd gespikkel en die volwasse voëls verveer een keer per jaar. Onder die Suider-Afrikaanse lysteragtiges is daar 'n hele klompie wat hulle goed by die menslike omgewing aangepas het en gereeld in tuine in dorpe en stede aangetref word.

Die bekendstes hiervan is die olyflyster (Turdus olivaceus), wat dikwels op grasperke op soek na erdwurms gesien word, die dassievoël of dassiebergwagter (Thamnolaea cinnamomeiventris), wat soms onder die dakrande van huise nesmaak, en die gewone janfrederik (Cossypha caffra), wat selfs in tuine in die middestad voorkom. 'n Ander bekende voël is die spekvreter (Cercomela familiaris), wat 'n baie algemene standvoël dwarsdeur Suider-Afrika is.

Hoewel die beroemdste singers onder die voëls die nagtegaal (Luscinia megarhynchos) en die rooiborsie (Erithacus rubecula) is, wat albei in Europa voorkom, is daar onder die Suider-Afrikaanse verteenwoordigers ook 'n hele aantal wat bale mooi sing. Voorbeelde hiervan is die bergwagter (Oenanthe monticola), die dassievoël, die Heuglinjanfrederik (Cossypha heuglini) en die skaapwagter (Oenanthe pileata).

Baie van hulle boots ook die roepgeluide van ander voëls na, soos byvoorbeeld die swartkopjanfrederik (Cossypha dichroa) en die vaalbruinbergwagter (Oenanthe bifasciata), terwyl die skaapwagter ook ander dieregeluide goed naboots.

Genera

[wysig | wysig bron]

Die familie word in die volgende genera opgedeel:[2]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • Wikispecies logo Wikispecies het meer inligting verwant aan Lysters
  • (en) "Turdidae". Encyclopædia Britannica. Besoek op 21 Augustus 2019.