[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Swartrenoster

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Swartrenoster
'n Swartrenoster in die Tarongadieretuin van Sydney, Australië
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Orde:
Familie:
Genus:
Diceros
Spesie:
D. bicornis
Binomiale naam
Diceros bicornis
Linnaeus, 1758
Subspesies

Diceros bicornis michaeli
Diceros bicornis longipes
Diceros bicornis minor
Diceros bicornis bicornis

Die swartrenoster se oorspronklike verspreiding (ca. 1700 n.C.).[1] Gestreep: Moontlike historiese verspreiding in Wes-Afrika.[2]
Die swartrenoster se huidige verspreiding

██ inheems ██ heringevoer

██ ingevoer

██ moontlik uitgestorwe

██ uitgestorwe

Die swartrenoster (Diceros bicornis) is 'n renosterspesie endemies aan die oostelike en suidelike gebiede van Afrika. Saam met die witrenoster is dit een van die twee renostersoorte wat in Suid-Afrika voorkom.

Die spesie in die algemeen word geklassifiseer as 'n kritiek bedreig.

In die 1970's was daar nog 'n geraamde 65 000 swartrenosters in lewe, wat weens stroping egter gedaal het tot 'n laagtepunt van minder as 2 300 in 1993. Hul getalle het herstel tot 4 880 in 2010, en tussen 5 366 en 5 627 in 2020.[3] Gevolglik het hul bevolking van hul laagtepunt (1993-1995) meer as verdubbel, maar daar is steeds 90% minder swartrenosters as drie mensegenerasies gelede.[4]

Verspreiding en habitat

[wysig | wysig bron]

Swartrenosters word aangetref in gebiede met beskikbare water, in areas tussen woud en grasvlaktes.

Vroeër het die swartrenoster van ongeveer 10 grade Noord tot by die punt van Afrika voorkgekom. Die verspreidingsgebied is egter hewig verklein en die dier is vandag beperk tot wildreservate in Kenia, Tanzanië, Namibië, Zambië en Suid-Afrika. Die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur het op 7 Julie 2006 aangekondig dat een van die swartrenostersubspesies, Diceros bicornis longipes, voorlopig as uitgesterf beskou word.[5]

Voorkoms

[wysig | wysig bron]

Die naam is misleidend, aangesien die renoster meer 'n donker grys-bruinerige kleur het. Die maklikste manier om die swartrenoster van die witrenoster te onderskei is deur sy gepunte bolip wat oor sy onderlip strek. Die witrenoster het 'n wyer, vierkantige bolip en is 'n grasvreter. Swartrenosters is blaarvreters en hou hule kop dikwels hoër as die witrenosters. 'n Volwasse swartrenoster weeg tussen 1000 en 2000 kg, 'n gemiddelde hoogte van ongeveer 160 cm en 'n lengte van 3 tot 3,7 meter (sy 70 cm-lange stert uitgesluit). 'n Ander kenmerk van enige renoster is sy horing: 'n swartrenoster se voorste horing kan tot 135 cm lang wees en sy tweede horing tot 46 cm.

Voortplanting

[wysig | wysig bron]

Paring vind dwarsdeur die jaar plaas, alhoewel daar piektye in sommige gebiede is. Na 'n draagtyd van 18 maande gee die koei geboorte aan 'n enkele kalfie. Die koei sal elke twee tot vyf jaar geboorte skenk. Na 2,5 tot 3,5 jaar kan die kleintjie onafhanklik van sy ouers funksioneer. Koeie is teen 4-6 jaar geslagsryp en bulle teen 7-9 jaar. In gevangenskap kan swartrenosters tot 45 jaar oud word.

Dieet

[wysig | wysig bron]

Swartrenosters gebruik hulle lippe om blare en ander plantagtige materiaal mee af te skeur. In teenstelling hiermee gebruik die witrenoster sy breë lip om gras na sy mond te "vee". Renosters benodig vars drinkwater en sal dus nie te ver van waterbronne dwaal nie.

Gedrag

[wysig | wysig bron]
Swartrenoster moeder en kalf in die Nasionale Etoshawildtuin, Namibië.

Swartrenosters baai graag in vlak watergate. Die water help moontlik om die renosters af te koel, terwyl die modder hulle moontlik 'n beskermende lagie teen bytende vlieë bied. Hulle is nie trekdiere nie en hulle tuisgebied oorvleuel. Alhoewel bulle waarskynlik territoriaal is, sal hulle ander ondergeskikte bulle in hulle gebiede duld. Koeie bly gewoonlik alleen saam het haar kalfies, maar sal soms 'n weggooikalfie tot die groep toelaat. Renosters loop saam in los groepe van tot 13 diere. Die swartrenosters is onvoorspelbaar en kan gevaarlik wees. Hulle het nie baie goeie visie nie, maar 'n uitstekende reuksintuig en sal mense, voertuie of kampeerplekke bestorm as hulle mense ruik. 'n Swartrenoster kan 'n spoed van 45 km/h haal wanneer hy hardloop. Meeste bestormings is alleen bedoel om die vyand af te skrik en word nie met 'n aanval gevolg nie, maar swartrenosters kan ernstige skade berokken wanneer hulle wel aanval.

Menslike bedreiging

[wysig | wysig bron]

Die swartrenoster se horing is 'n uiters gewilde tradisionele medisyne in China, Taiwan, Hongkong en Singapoer en as 'n ornamentele dolkhandvatsel in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Die aanvraag vir swartrenosters se horing is so groot dat 'n beraamde 90% van alle swartrenostersterftes as gevolg van stroping vir die horing is.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys en verwysings

[wysig | wysig bron]
  • Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0-86953-027-5.
  • Jansa, S. 1999. Diceros bicornis, Animal Diversity Web.
  1. Hillman-Smith, A.K.K. & Groves, C.P. (1994). "Diceros bicornis" (PDF). Mammalian Species (455): 1–8. doi:10.2307/3504292. JSTOR 3504292.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  2. Rookmaaker, L.C. (2004). "Historical distribution of the black rhinoceros (Diceros bicornis) in West Africa" (PDF). African Zoology. 39 (1): 63–70. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 25 Mei 2013. Besoek op 31 Desember 2015.
  3. Somerville, Keith (3 Maart 2020). "Rhino poaching down in South Africa and Namibia but on the rise in Botswana". talkinghumanities.blogs.sas.ac.uk. talking humanities. Besoek op 6 Maart 2020.
  4. Emslie, R. (2012). ""Diceros bicornis"". IUBN-rooilys van Bedreigde Spesies. Weergawe 2014.2. Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur. Besoek op 9 September 2014. {{cite web}}: Ongeldige |ref=harv (hulp)
  5. "West African black rhino 'is extinct'". The Times (in Engels). 7 Julie 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 September 2008. Besoek op 9 Oktober 2007.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]