Piëmontees
Piëmontees Piemontèis | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Italië | |
Gebied: | Piëmont | |
Totale sprekers: | 3 miljoen | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Romaans Wes-Romaans Galloitalies Piëmontees | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | ||
Gereguleer deur: | geen | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | -
| |
ISO 639-2: | -
| |
ISO 639-3: | pms
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Piëmontees (Piemontèis) is 'n Wes-Romaanse taal, wat deur sowat drie miljoen mense in die gewes Piëmont (Noordwes-Italië) gepraat word. Alhoewel baie taalkundiges Piëmontees as 'n selfstandige taal beskou, word dit in Italië by die streekdialekte gereken en nie as 'n amptelike taal erken nie. Geografies en taalkundig is dit nou verwant aan die ander Noord-Italiaanse streektale soos Lombardies, Emilia-Romagnools en Liguries, maar toon ook baie ooreenkomste met Provensaals en Frans.
Oorsprong en geskiedenis
[wysig | wysig bron]Piëmontees maak soos Romagnools deel uit van die Gallo-Italiese groep van dialekte, wat saam met Liguries die noordelike streektale van Italië verteenwoordig. Die Gallo-Italiese groep beslaan sowat twee derdes van die noordelike dialekgebiede en kom min of meer ooreen met die ou Keltiese stamgebiede.
Die eerste dokumente in Piëmontees, die sermones subalpini, dateer uit die 12de eeu, 'n tydperk toe die taal nog baie nou verwant is aan Oksitaans. Die Italiaanse digter Dante Alighieri verwys in sy De Vulgari Eloquentia, sy werk oor die destydse volkstale, na Piëmontees as 'n selfstandige dialek. Een van die bekendste Italiaanse taalkundiges, wat 'n selfstandige status aan Piëmontees toeken, is G.I. Ascoli, wat in 1873 met sy taalkundige werk L'Italia dialettale tot die slotsom kom dat die taal onafhanklik van die huidige Italiaans ontwikkel het. Die besondere etniese karakter van die Piëmontese taalgebied as 'n voormalige Keltiese streek word deur baie ander wetenskaplikes as 'n belangrike rede vir die selfstandige ontwikkeling van Piëmontees aangevoer, wat ook sy behandeling as 'n taal in eie reg regverdig. 'n Aantal deskundiges verwys na die Gallo-Italiese taalgebied as Médiolanie, afgelei van die Latynse van Milaan, Mediolanum.
Romagnools en Piëmontees is die enigste streektale in Noord-Italië wat vanaf die 12de eeu met 'n beskeie, maar ononderbroke literêre tradisie kan spog, terwyl die digters van Lombardye, die Emilia en Ligurië meesal Italiaans as hulle skryftaal gebruik.
Die politieke ontwikkeling in die laat Middeleeue bevorder die selfstandige ontwikkeling van die Piëmontese taal. Graaf Amadeo VI (1343–1383) slaag daarin om die Piëmontese gebiede te verenig en skep met die Universiteit van Turyn ook 'n kulturele en wetenskaplike sentrum. Die hertoë van Savoie maak van Piëmont tot by die 16de eeu 'n feitlik selfregerende gebied in die staatsverband van die Heilige Romeinse Ryk en weer ook alle pogings af om Piëmont by Frankryk in te lyf.
Eers tydens die 17de en 18de eeu ontwikkel Piëmontees tot 'n skryftaal, alhoewel dit nie kan meeding met Frans en Italiaans nie, wat in Piëmont steeds die belangrikste tale bly. Desondanks het 'n aansienlike getal digbundels, toneelstukke, romans en wetenskaplike werke in Piëmontees verskyn.
Onder die heerskappy van Vittorio Amadeo bedreig Frankryk en Spanje met hulle invalle nog eens Piëmont se onafhanklikheid. Met die oorwinning in die slag naby Assieta in die Susavallei in 1747 verdedig die Piëmonters hulle soewereiniteit. Die vryheidsoorlog gee ook die aanleiding vir die doelbewuste uitbou van die Piëmontese taal, wat nou nie net die medium van ambisieuse literêre werke word nie, maar ook die onderwerp van wetenskaplike navorsing. Die eerste woordeboek en grammatika dateer uit hierdie tydperk.
Die rewolusie en vereniging van Italië, waarby Piëmont 'n leidende rol speel, eindig met 'n neerlaag vir die aanhangers van 'n federale stelsel. Die sentralistiese Franse staat staan as model vir die nuwe Italië, en sy eerste regering begin onmiddellik 'n soort veldtog teen die inheemse dialekte. Piëmontese moedertaalonderwys word in 1864 verbied.
Eers ná die Eerste Wêreldoorlog begin die Companìa dij Brandé, 'n kring van taalbewustes onder die leiding van die digter Pinin Pacòt (1899–1964) met die standaardisering van die spelling volgens die reëls van die Franse Institut d'Estudis Occitans en die Katalaanse taalkundige Pompeu Fabra. Die Companìa as die belangrikste kulturele beweging in Piëmont bevorder ook ná die Tweede Wêreldoorlog die gebruik van Piëmontees en gee klassieke romans, 'n nuwe woordeboek en 'n nuwe grammatika uit. Ter herdenking van die oorwinning naby Assieta word die kulturele fees Festa dël Piemont in die lewe geroep. Aansoeke om van Piëmontees 'n skoolvak te maak word deur die owerhede nie goedgekeur nie. Vir baie dekades word pogings om die gebruik van Piëmontees te bevorder as 'n moontlike benadeling van Suid-Italianers beskou, wat hulle in groot getalle in die Piëmontese nywerheidsentrums soos byvoorbeeld Turyn gevestig het. Hierdie sienswyse begin eers in die laat 20ste eeu verander.
Huidige status
[wysig | wysig bron]In die daaglikse lewe van Piëmont word grotendeels die Italiaanse standaardtaal gepraat. Eers in 2004 erken die plaaslike regering die inheemse taal, terwyl die owerhede in Rome hulle taalbeleid volgens die artikel 5 van die Italiaanse grondwet formuleer, wat bepaal dat die Italiaanse republiek una ed indivisible (enig en onverdeeld) moet wees. In die praktyk het dit op 'n sterke benadeling van die streektale neergekom, wat as niks meer as plaaslike dialekte beskou is nie. Die noodsaaklikheid van moedertaalonderwys is gevolglik steeds betwyfel. Ondanks die geleidelik veranderende sienswyse is Piëmontese taalonderwys nog steeds 'n uitsondering in die plaaslike skoolstelsel, alhoewel die getal beskikbare skoolboeke begin groei het en taalkursusse vir volwassenes meer gewild begin raak. Piëmontees is egter nie as een van die amptelike tale van die Olimpiese Winterspele van 2006 toegelaat nie, en met net dertien persent van die plaaslike bevolking bly die aantal sprekers nog steeds laag.