Oktaangetal
Die Oktaangetal of oktaangehalte is 'n mate van petrol en ander brandstowwe se klopweerstand in binnebrandenjins met vonkontsteking. Enjins met hoë werkverrigting het tipies 'n hoër kompressieverhouding en is daarom meer geneig tot vroeë ontsteking en vereis daarom 'n brandstof met 'n hoër oktaangetal. 'n Enjin met 'n lae werkverrigting sal daarom nie noodwendig beter funksioneer met 'n brandstof van 'n hoër oktaangehalte nie omdat die kompressieverhouding 'n onveranderlike eienskap van 'n enjin se ontwerp is.
Die oktaangetal van 'n brandstof word in 'n toetsenjin gemeet en word gedefinieer as 'n vergelyking van die brandstof se klopweerstand met 'n iso-oktaan en 'n normale heptaan mengsel met dieselfde klopeienskappe as die brandstof. Die persentasie op 'n volumebasis van die iso-oktaan in die mengsel is die oktaangetal van die brandstof. 'n Brandstof met dieselfde klopeienskappe as 'n 90% iso-oktaan en 10% heptaan inhoud se oktaangetal is met ander woorde 90.[1] Omdat daar brandstowwe is met 'n hoër klopweerstand as suiwer iso-oktaan is die definisie uitgebrei om voorsiening te maak vir oktaangetalle hoër as 100 is.
Definisie van oktaangetal
[wysig | wysig bron]Die oktaangetal van 'n enjin met vonkontsteking is die klopweerstand van 'n brandstof vergeleke met 'n mengsel bevattende iso-oktaan (2,2,4-Trimetielpentaan, 'n isomeer van oktaan) en n-heptaan. Per definisie word 'n oktaangetal van 100 aan suiwer iso-oktaan 'n oktaangetal van 0 aan suiwer n-heptaan toegeken. 'n Brandstof met 'n oktaangetal van 87 het dus dieselfde klopeienskappe as 'n mengsel van 87% (op 'n volumebasis) iso-oktaan en 13% n-heptaan. Dit beteken nie dat die brandstof hierdie komponente in die verhouding bevat nie. Dit beteken bloot dat dit dieselfde klopeienskappe as die mengsel het.
Die oktaangetal dui nie op die energie-inhoud van 'n brandstof nie. Dit is slegs 'n mate van hoe geredelik 'n brandstof in 'n binnebrandenjin sal ontplof. Die mate is belangrik omdat 'n brandstof wat te vroeg ontplof skade kan aanrig aan 'n enjin se komponente.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Kemp, Kenneth W.; Brown, Theodore; Nelson, John D. (2003). Chemistry: the central science. Englewood Cliffs, N.J: Prentice Hall. p. 992. ISBN 0-13-066997-0.
{{cite book}}
: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)