[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Konstantinos Petrou Kavafis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Konstantinos Petrou Kavafis
Gebore29 April 1863
Sterf29 April 1933
NasionaliteitVlag van Egipte Egipte Vlag van Griekeland Griekeland
BeroepDigter

Konstantinos Petrou Kavafis (Grieks: Κωνσταντίνος Π. Καβάφης; Griekse uitspraak: kaˈvafis; ook bekend as Konstantin; 29 April (O.S. 17 April), 186329 April 1933) was 'n Grieks-Egiptiese digter, joernalis en staatsamptenaar.[1]

Sy bewustelik indiwiduele styl het aan hom 'n plek tussen die belangrikste figure besorg, nie slegs wat betref die Griekse letterkunde nie, maar ook Westerse poësie.[2]

Kavafis het in totaal sowat honderd-vier-en-vyftig gedigte geskryf, terwyl dosyne onvoltooid bly of slegs in sketsvorm voorkom. Gedurende sy leeftyd het hy konsekwent geweier om sy werk formeel te publiseer en verkies om dit te deel deur plaaslike koerante en tydskrifte. Hy het dit ook self uitgedruk en weggegee aan enigiemand wat belanggestel het. Sy belangrikste gedigte is na sy veertigste verjaardag geskryf en amptelik twee jaar na sy dood gepubliseer.

Biografie

[wysig | wysig bron]

Kavafis is in 1863 gebore in Alexandrië, Egipte, as die seun van Griekse ouers, en is in die Grieks-Ortodokse Kerk gedoop. Sy vader was Πέτρος Ἰωάννης (Grieks), Petros Ioannēs — vandaar die patronieme Petrou in sy naam — en sy moeder Charicleia (Grieks: Χαρίκλεια; née Γεωργάκη Φωτιάδη (Griekse uitspraak), Georgakē Photiadē).

Sy vader was 'n vooruitstrewende invoerder en uitvoerder wat vroeër in Engeland gewoon het en Britse burgerskap verkry het. Na sy vader se dood in 1870 het Kavafis en sy gesin hul vir 'n wyle in Liverpool gevestig. In 1876 het hy en sy gesin finansiële probleme in die gesig gestaar as gevolg van die depressie van 1873, en dus het hulle in 1877 na Alexandrië verhuis.

In 1882 het onluste in Alexandrië die gesin genoop om weer te trek, hierdie keer na Konstantinopel (alhoewel op 'n tydelik grondslag). Die jaar het onluste uitgebreek in Alexandrië teen die Anglo-Franse beheer van Egipte, wat die Anglo-Egiptiese Oorlog van 1882 voorafgegaan het. Alexandrië is gebombardeer deur 'n Britse vloot, en die gesin se woonstel in Ramleh is vernietig.

In 1885 het Kavafis teruggekeer na Alexandrië, waar hy die res van sy lewe sou woon. Sy eerste werk was as joernalis, en daarna het hy 'n pos aanvaar by die Brits-beheerde Egiptiese Departement van Openbare Werke, welke hy vir dertig jaar beklee het. (Egipte was tot 1926 'n Britse protektoraat) Hy het sy poësie vanaf 1891 tot 1904 gepubliseer, en ook slegs vir sy vriende.

Enige lof wat hy ontvang het, was hoofsaaklik afkomstig van die Griekse gemeenskap van Alexandrië. Hy is uiteindelik in 1903 bekend gestel aan die literêre kringe van hoofland-Griekeland by wyse van 'n gunstige resensie van Gregorios Xenopoulos. Hy het egter min erkenning ontvang omdat sy styl opmerklik verskil het van die styl van die destydse hoofstroom van Griekse poësie. Dit was slegs twintig jaar later, na die Griekse nederlaag in die Grieks-Turkse Oorlog van 1919 tot 1922, dat 'n nuwe generasie van amperse nihilistiese digters (byvoorbeeld Karyotakis) inspirasie sou vind in Kavafis se werk.

'n Biografiese nota geskryf deur Kavafis lees as volg:

My voorsate kom van Konstantinopel, maar ek is in Alexandrië gebore in 'n huis in Seriph Straat.-; Ek het op 'n jeugdige ouderdom hiervandaan getrek en die grootste deel van my jeug in Engeland spandeer. Hierna het ek die land besoek as 'n volwassene, maar slegs vir 'n kort rukkie. Ek het ook in Frankryk gewoon. Gedurende my adolessensie het ek vir meer as twee jaar in Konstantinopel gewoon. Dit was baie jare laas dat ek Griekeland besoek het. My laaste pos was as klerk by 'n regeringskantoor wat onder die Departement van Openbare Werke van Egipte geressorteer het. Ek ken Engels, Frans, en 'n klein bietjie Italiaans.[3]

Hy het op 29 April 1933, sy 70ste verjaardag, aan kanker van die larinks beswyk. Sedert sy dood het Kavafis se reputasie met rasseskrede gegroei. Sy poësie is deel van die skoolkurrikulum in Griekeland en Siprus, en word ook in universiteite regoor die wêreld bestudeer.

E. M. Forster het Kavafis persoonlik geken en memoirs oor hom geskryf wat vervat is in sy boek Alexandria. Forster, Toynbee en Eliot was van die vroegste voorstanders van Kavafis in die Engelssprekende wêreld voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. In 1966 het David Hockney 'n reeks drukwerke gemaak om 'n seleksie van Kavafis se gedigte te illustreer, insluitende In die Saai Dorpie.

Manuskrip van sy gedig "Thermopylae".
Kavafis se gedig Κρυμμένα ("Krimmena", Versteekte Dinge) soos geverf op 'n gebou in Leiden, Nederland.

Kavafis was instrumenteel in die oplewing en erkenning van beide Griekse literatuur en poësie. Sy gedigte is tipies bondige maar intieme oproepings van werklike of literêre figure en milieus uit die Griekse kultuur. Onsekerheid oor die toekoms, sensuele plesier, die morele karakter en die sielkunde van indiwidue, homoseksualiteit en 'n fatalistiese eksistensiële krisis-tipe nostalgie is sommige van die bekendste temas.

Sy gedigte toon ook 'n vaardige en buigbare vakmanskap, wat ongewoon is vir die tyd en sy gedigte moeilik vertaalbaar maak.[4] Kavafis was 'n perfeksionis wat obsessief was en elke reël van sy poësie verfyn het. Sy volwasse styl kan beskryf word as 'n vrye jambiese vorm, vry in die sin dat sy verse selde gerym het, en gewoonlik tien tot sewentien lettergrepe bevat. Die teenwoordigheid van rym impliseer gewoonlik in sy gedigte ook ironie.

Kavafis het sy temas uit persoonlike ondervindings getrek, saam met 'n wye kennis van die geskiedenis, veral van die Hellenistiese era. Baie van sy gedigte is pseudo-geskiedkundig, of skynbaar geskiedkundig of op akkurate maar stoutmoedige wyse geskiedkundig.

Een van Kavafis se mees belangrike werke is sy 1904 gedig, Wagtend op die Barbare. Die gedig neem 'n aanvang met die beskrywing van 'n vervalle stadstaat wie se bevolking en wetgewers wag vir die koms van die barbare. Wanneer die nag kom, het die barbare nog nie gekom nie. Die gedig eindig met: "Wat sal word van ons sonder barbare? Daardie mense was 'n oplossing van 'n soort."

In 1911 het Kavafis "Ithaka" geskryf, wat geïnspireer is deur deur die epiese gedig van Homerus oor die terugreis van Odusseus na sy tuiseiland, soos voorgestel in die Odussee. Die gedig se tema behels dat die genietinge van die reis van die lewe, en die groter wordende volwassenheid van die siel soos die reis ontvou, die enigste beloning is waarvoor 'n reisiger kan vra. Vir Homeros, en vir die Grieke oor die algemeen, is nie die eiland self nie, maar die idee van Ithaka, van belang.[5] Die lewe is ook 'n reis, en daar word van almal verwag om die uitdagings daarvan te konfronteer soos Odusseus toe hy terugkeer het van Troje. Wanneer jy Ithaka bereik, het jy soveel ondervinding weens die reis opgedoen dat dit nie van belang is of jy jou doelwitte bereik het of nie (Odusseus het byvoorbeeld heeltemal alleen teruggekeer). Ithaka kan jou nie rykdom gee nie, maar sy het aan jou 'n wonderlike reis gegee.

Byna al Kavafis se werk is in Grieks; tog het sy poësie onbekend gebly in Griekeland. Dit was eers na die publikasie van sy eerste bloemlesing in 1935 deur Heracles Apostolidis (vader van Renos Apostolidis) dat sy werk meer bekendheid verwerf het. Sy unieke styl en taal -wat 'n mengsel was van Katharevousa (Grieks: Καθαρεύουσα, Griekse uitspraak: [kaTa'revus], "gereinigde taal"), en Demotiese Grieks (Dhimotiki, [Dimoti'ci], "taal van die mense") - het kritiek ontvang vanaf Kostis Palamas (die grootste digter van sy era in hoofland-Griekeland) en sy volgelinge, wat ten gunste is van die suiwerste vorm van Demotiese Grieks. Kavafis is bekend om sy prosaïese gebruik van die metafoor, sy briljante gebruik van historiese beeldvorming en sy estetiese perfeksionisme. Hierdie eienskappe het, onder andere, aan hom 'n ewigdurende plek in die literêre kanon van die Westerse Wêreld besorg.

Uitreksel uit Ithaka

[wysig | wysig bron]
Oorspronklike Grieks Afrikaanse vertaling
Σὰ βγεῖς στὸν πηγαιμὸ γιὰ τὴν Ἰθάκη,
νὰ εὔχεσαι νἆναι μακρὺς ὁ δρόμος,
γεμάτος περιπέτειες, γεμάτος γνώσεις.
Τους Λαιστρυγόνες και τους Κύκλωπες,
το θυμωμένο Ποσειδώνα μη φοβάσαι
As jy met jou reis na Ithaka begin,
bid dan dat die pad lank sal wees,
vol avontuur en vol wysheid.
Moenie vir die Laistrugoniërs skrik nie,
nie vir siklope en die woedende Poseidon nie.

[6]

Historiese gedigte

[wysig | wysig bron]

Hierdie gedigte is meestal geïnspireer deur die Hellenistiese era met Alexandrië as primêre fokuspunt. Ander gedigte kry hul oorsprong vanuit die Hellenisties-Romeinse oudheid en die Bisantynse era. Mitologiese verwysings is ook teenwoordig. Die tydperke wat gekies is was meestal tydperke van verval en dekadensie (bv. die Trojane); sy helde wat die finale einde moes trotseer.

Filosofiese gedigte

[wysig | wysig bron]

Hierdie gedigte (ook genoem instruktiewe gedigte) word verdeel in gedigte van beraadslagings met digters, en gedigte wat handel met ander situasies soos berusting (soos "Die Mure"), skuld (soos "Thermopylai") en menswaardigheid (soos "Die God Abandonneer Antonius").

Die gedig "Thermopylae" herinner aan die bekende Veldslag van Thermopylai waar 300 Spartane en hulle geallieerdes geveg het teen die oormag van die Perse, alhoewel hulle geweet het dat hulle verslaan sal word. Daar is sommige beginsels in ons lewens waarvolgens ons moet lewe, en Thermopylai is die basis van pligsbesef. Ons veg daar, alhoewel ons weet die potensiaal vir mislukking bestaan. (Op die einde verskyn die verraaier Ephialtes en lei die Perse deur die geheime roete).[7]

In 'n ander gedig, "In die Jaar 200 V.C.", lewer Kavafis kommentaar op die geskiedkundige epigram “Alexander, seun van Philipus, en die Grieke, behalwe van die Lacedaemoniërs,...”.[8]

Kavafis prys die Hellenistiese era en idee en verdoem so die verstokte en liggelowige idees van die Hellenisme. In ander gedigte is sy posisie egter ampisimies en word daar nie 'n duidelike lyn getrek tussen die klassieke ideaal van die oudheid en die Hellenistiese era nie (wat soms beskryf word met 'n toon van dekadensie).

Museum

[wysig | wysig bron]
Huismuseum van Kavafis, Alexandrië.
'n Borsbeeld van Konstantinos Kavafis in sy woonstel.
Dodemasker van Kavafis.

Kavafis se woonstel in Alexandrië is sedertdien omgeskakel na 'n museum. Die museum huisves verskeie van Kavafis se sketse en oorspronklike manuskripte en bevat ook verskeie prente en portrette van en deur Kavafis.

Bibliografie

[wysig | wysig bron]

Seleksies van Kavafis se gedigte het slegs in pamfletvorm en privaat-gedrukte boekies gedurende sy leeftyd verskyn. Die eerste publikasie in boekvorm was "Ποιήματα" (Poiēmata, "Gedigte") wat postuum in 1935 in Alexandrië gepubliseer was.

Afrikaanse vertalings van Kavafis se poësie

[wysig | wysig bron]

Cas Vos is verantwoordelik vir van die beste vertalings van Kavafis se poësie in Afrikaans. Van Kafavis se werke in Afrikaanse vorme kan gevind word in sy digbundel getiteld Voor-bode, wat in 2015 deur Protea Boekhuis uitgegee is. Kavafis se beroemde gedig, Ithaka is ook daarin vervat.

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Panagiotis Roilos, C. P. Cavafy: The Economics of Metonymy, Urbana: University of Illinois Press, 2009.
  • Panagiotis Roilos (red.), Imagination and Logos: Essays on C. P. Cavafy, Cambridge, Massachusetts, Harvard University Press, 2010 (ISBN 9780674053397).
  • Robert Liddell, Cavafy: A Critical Biography (Londen: Duckworth, 1974). 'n Hoog aangeskrewe biografie van Kavafis. Hierdie biografie is ook vertaal in Grieks (Ikaros, 1980) en Spaans (Ediciones Paidos Iberica, 2004).
  • P. Bien, Constantine Cavafy (1964)
  • Edmund Keeley, Cavafy's Alexandria (Princeton, NJ: Princeton University Press, 1995). 'n Uitgebreide ontleding van Kavafis se werk.
  • Michael Haag, Alexandria: City of Memory (New Haven, CT: Yale University Press, 2005). Hierdie werk verskaf 'n portret van die stad gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu asook 'n biografiese relaas van Kavafis se invloed op E.M. Forster en Lawrence Durrell.
  • Michael Haag, Vintage Alexandria: Photographs of the City 1860-1960 (New York and Cairo: The American University in Cairo Press, 2008). Hierdie werk is 'n fotografiese bestekopname van die kosmopolitiese stad soos dit aan Kavafis bekend was. Dit sluit fotos van Kavafis, E.M. Forster, Lawrence Durrell en indiwidue wat hulle in Alexandrië geken het in.
  • Martin McKinsey, Hellenism and the Postcolonial Imagination: Yeats, Cavafy, Walcott (Madison, NJ: Fairleigh Dickinson University Press, 2010). Hierdie is die eerste boek om Kavafis se werk vanuit 'n postkoloniale perspektief te benader.

Rolprente

[wysig | wysig bron]
  • Cavafy. Die biografiese rolprent uit 1996 is deur Iannis Smaragdis geregisseer, met musiek deur Vangelis. Die rolprent se draaiboek is deur Smaragdis gepubliseer.

Ander verwysings

[wysig | wysig bron]
  • C. P. Kavafis verskyn as 'n karakter in die Alexandria Kwartet deur Lawrence Durrell.
  • Die Weddings Parties Anything-lied 'The Afternoon Sun' is gebaseer op die Kavafis-gedig van dieselfde titel.
  • Die Amerikaanse digter Mark Doty se boek My Alexandria maak gebruik van die plek en beeldelandskap van Kavafis ten einde 'n vergelykbare kontemporêre landskap te skep.
  • Die Kanadese digter en sanger-liedjieskrywer Leonard Cohen het op pragtige wyse Kavafis se gedig "The God Abandons Antony," gebaseer op Marcus Antonius se verlies van die stad Alexandrië en sy ryk, gebruik en dit ingeweef in sy liedjie "Alexandra Leaving," 'n liedjie oor verlore liefde.[9]
  • Die Skotse liedjieskrywer Donovan maak gebruik van een van Kavafis se gedigte in die 1970-rolprent There is an Ocean.
  • Die Turkse romansier en Nobel-pryswenner Orhan Pamuk het in 'n uitgebreide essay wat in die "New York Times" gepubliseer is geskryf oor hoe Kavafis se poësie, en veral sy gedig "Die Stad," die manier verander het waarop hy dink oor Istanbul, 'n stad wat sentraal is tot Pamuk se eie skryfwerk.[10]
  • Frank H. T. Rhodes se laaste aanvangstoespraak wat in 1995 gelewer is by Cornell-universiteit is gebaseer op Kavafis se gedig Ithaka.[11]

Notas

[wysig | wysig bron]
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Engelse Wikipedia vertaal.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Before Time Could Change Them". Theoharis Constantine. 2001. pp. 13–15.
  2. "Constantine P. Cavafy - Greek writer" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 September 2018. Besoek op 28 Januarie 2018.
  3. Woods, Gregory (1999). A History of Gay Literature, the Male Tradition. Yale University Press. ISBN 978-0-300-08088-9.
  4. "More Cavafy by A. E. Stallings". Poetry Foundation (in Engels). 27 Januarie 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2018. Besoek op 28 Januarie 2018.
  5. Sien ook die epiese en inspirerende weergawes van die gedig soos voorgelees (in Engels) deur Sean Connery met musiek deur Vangelis op Youtube:https://www.youtube.com/watch?v=1n3n2Ox4Yfk en https://www.youtube.com/watch?v=w2UDVAC31Zs
  6. Deur Cas Vos soos geneem uit sy bundel Voor-bode.
  7. "Thermopylae – a poem on the good kind of life" (in Engels). 30 Junie 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2019. Besoek op 28 Januarie 2018.
  8. "C.P. Cavafy - Poems - The Canon". www.cavafy.com. Besoek op 28 Januarie 2018.
  9. "Alexandra Leaving". www.leonardcohensite.com (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2019. Besoek op 28 Januarie 2018.
  10. Pamuk, Orhan (19 Desember 2013). "Other Countries, Other Shores" (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2019. Besoek op 28 Januarie 2018 – via NYTimes.com.
  11. Rhodes, Frank H. T. "Commencement Address 1995" (PDF). Besoek op 29 Augustus 2016.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]