[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Kaaimanseilande

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Kaaimanseilande
Cayman Islands (Engels)
Vlag van Kaaimanseilande Wapen van Kaaimanseilande
Vlag Wapen
Nasionale leuse:
He hath founded it upon the seas
(Engels vir: "Hy het dit gegrond op die seë")
Volkslied: God Save the King
(Engels vir: "God beskerm die koning")

Nasionale lied: Beloved Isle Cayman
Ligging van Kaaimanseilande
Hoofstad George Town

19°20′N 81°24′W / 19.333°N 81.400°W / 19.333; -81.400

Grootste stad George Town
Amptelike tale Engels
Regering

Monarg
• Goewerneur
Eerste Minister
Parlementêre demokrasie binne
’n grondwetlike monargie
Charles III
Jane Owen
Julianna O'Connor-Connolly
Onafhanklikheid
Stigting
• Britse bewind
• Selfregering
Britse oorsese gebied
• Huidige grondwet


1670
4 Julie 1959
6 Augustus 1962
6 November 2009
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
259 km2 km2  
102 myl2
1,6
Bevolking
 - 2023-skatting
 - Digtheid
 
84 738 (59ste)
275,8/km2 / km2 ()
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2019-skatting

$4,78 miljard (159ste)
$73 600 (11de)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2020-skatting

$5,61 miljard (160ste)
$109 684 (7de)

MOI (2013) 0,888 ()  –  baie hoog
Geldeenheid Dollar (KYD)
Tydsone
 - Somertyd
(UTC-5)
Nie toegepas nie (UTC-5)
Internet-TLD .ky
Skakelkode +1-345

Die Kaaimanseilande (Engels: Cayman Islands) is 'n selfregerende oorsese gebied van die Verenigde Koninkryk in die Wes-Indiese Eilande, noordwes van Jamaika en suidwes van Kuba. Dit is die grootste sodanige gebied volgens bevolking.

Die gebied van 264 km2 bestaan uit drie eilande: Groot-Kaaiman, Kaaiman-brac en Klein-Kaaiman, wat suid van Kuba en noordoos van die Honduras lê, tussen Jamaika en Mexiko se Yucatán-skiereiland. Die hoofstad en grootste stad is George Town op Groot-Kaaiman, die digs bevolkte eiland van die drie.

Die Kaaimanseilande word beskou as deel van die geografies westelike Karibiese sone sowel as die Groot-Antille. Met 'n BBP per capita van US$109 684 het die Kaaimanseilande die hoogste lewenstandaard in die Karibiese gebied en een van die hoogstes in die wêreld.[1] Immigrante van meer as 140 lande en gebiede woon op die eilande.[2]

Dit is 'n groot finansiële sentrum vir internasionale sakelui en ryk individue, grootliks omdat geen belasting op inkomste betaal word nie.[3] Baie handelsbanke se hoofkantore is ook hier gevestig.

Die meeste inwoners van die Kaaimanseilande is veelrassige (swart en wit) Engelssprekendes. Die eilande het in 2023 'n bevolking van 84 738 gehad en het 'n oppervlakte van 259 km².

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Teen 2017 is geen bewyse nog gevind dat die eilande bewoon was voordat Europeërs hulle ontdek het nie.[4] Die Kaaimanseilande se naam kom van die woord vir "krokodil" (caiman) in die taal van die inheemse Suid-Amerikaanse groep Arawakke.[5] Die eerste Europeër wat die eilande gesien het, was vermoedelik Christophorus Columbus, op 10 Mei 1503, tydens sy laaste vaart na die Amerikas.[6][7] Hy het dit "Las Tortugas" genoem, na die groot getal waterskilpaaie wat daar aangetref is (en feitlik almal sedertdien in jagtogte uitgewis is).[6][8]

2 Kaaimanseilandse dollar, 1975.

In daaropvolgende jare is egter na die eilande as die "Kaaimans" verwys na aanleiding van die baie kaaimans wat daar teenwoordig was.[7][6]

Nadat Columbus dit gesien het, is dit nie dadelik gekoloniseer nie, maar 'n verskeidenheid setlaars van verskillende agtergronde het eindelik gearriveer, onder andere seerowers, gestrande matrose en drosters van Oliver Cromwell se leër in Jamaika.[9]

Sir Francis Drake het die eilande in 1586 vir 'n rukkie besoek.[10]

Die eerste aangetekende permanente bewoner, Isaac Bodden, is omstreeks 1661 op Groot-Kaaiman gebore. Hy was die kleinseun van 'n oorspronklike setlaar met die naam Bodden, waarskynlik een van Cromwell se soldate wat betrokke was by die verowering van Jamaika van Spanje in 1655.[11]

Die Kaaimanseilandse Nasionale Museum, in George Town.
Heldeplein in die middestad van George Town, wat die Kaaimanseilande se oorlogsgesneuweldes gedenk.

Engeland het amptelik saam met Jamaika beheer van die eilande oorgeneem kragtens die Verdrag van Madrid van 1670.[7] In dieselfde jaar was daar 'n aanval op 'n skilpadvangersgemeenskap op Klein-Kaaiman deur die Spanjaarde onder die Portugese kaapvaarder Manuel Ribeiro Pardal.[10] Ná verskeie onsuksesvolle pogings om hulle te vestig op wat toe 'n toevlugsoord vir seerowers geword het,[8] het 'n permanente Engelse bevolking sedert die 1730's ontstaan.[8]

Dit is gou gevolg deur die instelling van slawerny.[12] Baie slawe is in Afrika gekoop en na die eilande gebring. Die gevolg is dat die meeste inheemse Kaaimanseilanders óf van Afrika- óf van Britse herkoms is.[7] Die eerste sensus is in 1802 opgeneem en wys die bevolking op Groot-Kaaiman was 933, van wie 545 slawe was.[8] Slawery is in 1833 deur Brittanje afgestel. Daar was toe meer as 950 slawe van Afrikaherkoms wat deur 116 families besit is.[13][6]

Op 22 Junie 1863 is die Kaaimanseilande tot 'n afhanklike gebied van Jamaika verklaar.[14] Die eilande is tot in 1962 bestuur as deel van die Kolonie Jamaika, totdat Jamaika 'n onafhanklike Statebondsland geword het.[15][7] Daarna is hulle weer dierek deur Brittanje bestuur.[7] In 1972 is 'n groot mate van interne outonomie deur 'n nuwe grondwet toegeken, met nog hersienings in 1994.[7]

In die 1950's het toerisme begin floreer ná die opening van die Internasionale Lughawe Owen Roberts,[16] asook 'n bank en verskeie hotelle.[10][8] Die regering fokus daarop om die eilande se ekonomie 'n hupstoot te gee met toerisme en die lok van buitelandse beleggers, wat albei van die 1970's af geweldig gestyg het.[8][7] Die Kaaimanseilande is histories 'n belastingvrye bestemming, en die regering steun op indirekte pleks van direkte belasting. Dit maak die eilande dus 'n gewilde belastingvrye toevlugsoord.[17]

In April 1986 is die eerste seebewaringsgebiede in die Kaaimanseilande aangewys, wat hulle die eerste eilande in die Karibiese gebied gemaak het wat hulle kwesbare seelewe beskerm.

Die grondwet is in 2001 en 2009 nog verander, en verskeie aspekte van menseregte is in die wetboek saamgevat.[7]

Op 11 September 2004 is Groot-Kaaiman, wat feitlik onbeskerm op die seevlak lê, deur Orkaan Ivan getref. Dit was die ergste orkaan in 86 jaar op die eilande.[18] Dit het 'n stormvloed van 2,4 meter hoog geskep wat baie gebiede op Groot-Kaaiman oorstroom het.[7] 'n Geraamde 83% van die huise op die eiland is beskadig en 4% moes heeltemal herbou word. Sowat 70% van alle huise is erg deur water en wind beskadig. Ander het minder skade opgedoen weens dakke wat gedeeltelik afgewaai is, lae vlakke van oorstroming of windgewaaide orkaanpuin.[19] Krag, water en kommunikasie is in sommige gebiede vir maande ontwrig. Danksy 'n herbouingsprogram was die eiland se infrastruktuur ná twee jaar amper weer soos voor die orkaan.

Weens die tropiese ligging van die Kaaimanseilande tref meer orkane of tropiese stelsels die eilande as enige ander gebied in die Atlantiese kom. Dit word gemiddeld elke twee jaar gedeeltelik of direk deur een getref.[20]

Geografie

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van die Kaaimanseilande wat die drie hoofeilande wys sowat 120 km van mekaar af.

Die eilande lê in die westelike Karibiese See en is die pieke van 'n ondersese bergreeks bekend as die Kaaimansrif. Die rif lê aan die Kaaimanstrog, 6 000 m diep,[21] wat 6 km suid daarvan geleë is.[22] Die eilande lê oos van Mexiko en die Yucatán-skiereiland, noordoos van Costa Rica, noord van Panama, suid van Kuba en wes van Jamaika. Hulle is sowat 700 km van Miami af geleë.[23]

George Town se waterfront.

Groot-Kaaiman is verreweg die grootste eiland, met 'n oppervlakte van 197 km2.[24] Die twee ander eilande, Kaaiman-brac en Klein-Kaaiman, lê sowat 120 km oosnoordoos van Groot-Kaaiman, met oppervlaktes van onderskeidelik 38 en 28,5 km2.[25] Die grootste landmassa van Groot-Kaaiman af is Kuba se Canarreos-argipel (sowat 240 km van daar).

Al drie eilande is gevorm deur groot koraalpilare en is feitlik plat. 'n Merkbare uitsondering is die Bluff op Kaaiman-brac se oostelike deel, wat tot 43 m bo die seevlak styg; dit is die hoogste punt op die eilande.[26] (Brac is die Galliese woord vir bluff.)

Die terrein is hoofsaaklik 'n laaggeleë kalksteenbasis, omring deur koraalriwwe.

Fauna

[wysig | wysig bron]

Die soogdierspesies van die Kaaimanseilande sluit in die Sentraal-Amerikaanse goudhaas en agt spesies vlermuise. Minstens drie inheemse knaagdierspesies was teenwoordig voor die ontdekking van die eilande deur Europeërs.

Die seelewe om Groot-Kaaiman sluit in tarpoene (Megalopidae), spierinkies (Atheriniformes), Franse keisersvisse (Pomacanthus paru) en reusebuissponse. 'n Paar walvisagtiges soos die potvis word ook 'n ent van die kus af aangetref.

Die bloulikkewaan.

Voëls sluit twee inheemse subspesies van Amazona-papegaaie in: Amazona leucocephala hesterna en Amazona leucocephala caymanensis. Hoewel nonnetjiesuile (Tyto alba) op al drie eilande voorkom, is hulle nie algemeen nie. Daar is ook vyf inheemse spesies skoenlappers,[27] wat in die Botaniese Park Queen Elizabeth II gesien kan word.

Van die ander merkwaardige diere in die park is die kritiek bedreigde bloulikkewaan (Cyclura lewisi). Dit is inheems aan Groot-Kaaiman,[28] veral vanweë die rotsagtige, sonverligte, oop gebiede naby die eiland se kus – dit is voordelig vir die lê van eiers. Die kleintjies oorleef egter nie dikwels in die natuur nie weens habitatvernietiging en indringende soogdierroofdiere.[29]

Die Kubaanse krokodil (Crocodylus rhombifer) het eens op die eilande gewoon.[30] Die Amerikaanse krokodil (Crocodylus acutus) van Kuba herbevolk glo nou die eilande. Die naam "Kaaiman" kom van die Karibiese woord vir die verskeie krokodille wat die eilande bewoon het.[31]

Tekens by Rum Point gedenk orkane wat die eilande getref of amper gemis het.

Klimaat

[wysig | wysig bron]

Die Kaaimanseilande het 'n tropiese nat en droë klimaat. Die nat seisoen is van Mei tot Oktober en die droë seisoen van November tot April. Daar is net klein temperatuurverskille tussen die seisoene.[32]

'n Groot natuurgevaar is die tropiese siklone wat vorm in die Atlantiese orkaanseisoen van Junie tot November.

Op 11 en 12 September 2004 het Orkaan Ivan die Kaaimanseilande getref. Twee mense is dood en groot skade is aan die infrastruktuur aangerig. Die algehele ekonomiese impak van die storms word geraam op sowat $3,4 miljard.[33]

Demografie

[wysig | wysig bron]
Kaaimanseilande
  
31.6%
Jamaika
  
26.8%
Filippyne
  
8.2%
Verenigde State
  
5.2%
Brittanje
  
4.7%
Honduras
  
3.5%
Kanada
  
3%
Kuba
  
1.7%
Ander
  
15.3%
Bevolking volgens agtergrond[34]

Hoewel baie Kaaimanseilanders al geslagte daar woon, het baie van hulle wortels in byna elke deel van die wêreld. Nes lande soos die VSA, is die Kaaimanseilande 'n smeltkroes met burgers van elke agtergrond. Die meeste bewoners is nie Kaaimanseilanders nie.

Volgens die ekonomiese en statistiekekantoor van die regering het die eilande 'n bevolking van 71 432 gehad met die sensus van 10 Oktober 2021, maar dit het na raming sedertdien gestyg tot 81 546 teen Desember 2022. Dit is dus die digs bewoonde Britse oorsese gebied.[35]

Met die 2021-sensus is onthul sowat 56% van die werkmag is nie Kaaimanseilanders nie; dit is nie eerste keer in die gebied se geskiedenis dat die grootste deel van die werkmag immigrante is.[36]

Die meeste Kaaimanseilanders is van gemenge Afrika- en Europese afkoms. Slawerny het voorgekom, maar was nie so algemeen as op ander Karibiese eilande nie. Toe dit eers afgeskaf is, het die swart en wit gemeenskappe oënskynlik makliker geïntegreer as in ander Karibiese nasies, en die bevolking is dus nou meer gemeng.[37]

Die land se demografie verander vinnig. Immigrasie speel 'n groot rol, en die verandering in die bevolking se ouderdom het in die mees onlangse sensus waarskuwingsligte laat flikker. Die 2021-sensus wys 36% van die bevolking se groei sedert die 2010-sensus was in die ouderdomsgroep bo 65, terwyl die groei in mense jonger as 15 jaar net 8% was. Dit is weens 'n uiters lae geboortesyfer onder die Kaaimanseilanders, en dit laat die regering werkers van oorsee lok om die ekonomie bestendig te hou. Dit maak die jong eilandbewoners bekommerd, want die werkmag raak al hoe mededingender met die invloei van werkers, en dit stoot eiendomspryse en huurgeld op.[38]

Omdat die bevolking die afgelope dekade so toegeneem het, het voormalige regeringsamptenare klem daarop gelê dat die eilande 'n versigtiger en beter bestuurde groei nodig het. Baie is bekommerd dat die land se infrastruktuur en dienste nie die vinnig groeiende bevolking kan onderhou nie. Daar word geraam dat die bevolking voor 2030 al 100 000 sal wees as die huidige tendense voortduur.[39]

Die Elmslie United Church, George Town.

Tale en godsdiens

[wysig | wysig bron]

Die amptelike taal op die eilande is Engels (90%).[40] Eilanders se aksente het elemente behou van (onder andere) Engelse, Skotse en Walliese setlaars in 'n taalvariant bekend as Kaaimanseilandse kreools. Eilanders van Jamaikaanse oorsprong praat hulle eie spreektaal (sien Jamaikaanse patois). Baie bewoners praat Spaans,[40] want daar is baie immigrante van Latyns-Amerika. Tagalog word deur 8% van die bevolking gepraat, van wie die meeste werkers van die Filippyne is.[40]

Die grootste godsdiens op die Kaaimanseilande is die Christendom[40] (66,9% volgelinge teenoor meer as 80% in 2010).[41] Daar is ook 'n aktiewe sinagoge en Joodse gemeenskap,[42] en aanbiddingsplekke in George Town vir Jehovasgetuies en volgelinge van die Bahá'í-geloof. In 2020 was daar na raming 121 Moslems.[43]

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Volgens Forbes het die Kaaimanseilande die sewende sterkste geldeenheid in die wêreld (die Kaaimanseilandse dollar, CI$ of KY$). 'n Amerikaanse dollar is sowat KY$0,80 werd.[44]

Die eilande se ekonomie word oorheers deur finansiële dienste en toerisme, wat saam 50-60% van die BBP uitmaak.[45] Die gebied se gebrek aan belasting op inkomste en fondse maak dat dit 'n belastingstoevlugsoord vir maatskappye is. Sowat 100 000 maatskappye is op die eilande geregistreer; dit is meer as die bevolking. Die eilande word soms gekritiseer oor bewerings van geldwassery en ander finansiële misdade. In 2016 het oudpresident Barack Obama 'n sekere gebou wat die geregistreerde adres van meer as 12 000 korporasies was, in 'n verklaring as belastingsbedrog beskryf.[46]

Teen 2015 was die werkloosheidsyfer net sowat 4,24%,[47] laer as die 4,7% in 2014.

Met 'n gemiddelde inkomste van US$109 684, het die Kaaimanseilanders die hoogste lewenstandaard in die Karibiese gebied. Volgens die CIA se World Factbook is die eilande se reële BBP per capita die 10de hoogste in die wêreld, maar dit was vir 2018 en waarskynlik laer as vandag.[48]

Die eilandbewoners het 'n hoë lewenskoste, selfs in vergelyking met die VSA en Brittanje.[49] 'n Volgraanbrood kos byvoorbeeld KY$5,49, terwyl 'n soortgelyke brood in Amerika KY$2,47 en in Brittanje KY$1,36 kos.[50]

Die regering se primêre inkomstebron is indirekte belasting. Invoerbelasting van 5% tot 22% (op motors van 29,5% tot 100%) word gehef. Min goedere is daarvan kwytgeskeld; van die noemenswaardigstes is boeke, kameras en parfuum.[51]

Toerisme

[wysig | wysig bron]
'n Panorama van Seven Mile Beach op Groot-Kaaiman.
'n Panorama van Seven Mile Beach op Groot-Kaaiman.

Een van Groot-Kaaiman se hoofattraksies is Seven Mile Beach, waar 'n paar van die eiland se hotelle en oorde geleë is. Caribbean Travel and Life het dit een van die topstrande genoem. Seven Mile Beach (wat nou net 5,5 myl, of 8,8 km, breed is weens erosie oor die jare) is 'n openbare strand aan Groot-Kaaiman se weskus.[52]

Die uitkyktoring by Camanabaai, Noord-George Town.

Historiese terreine op Groot-Kaaiman, soos die Pedro Sint James-kasteel in Savannah, lok ook toeriste.[53]

Al drie eilande bied skubaduik aan en die eilande huisves verskeie snorkelplekke waar toeriste saam met pylsterte kan swem. Die gewildste een is Stingray City, Groot-Kaaiman. Dit is 'n topattraksie en is oorspronklik in die 1980's begin toe duikers begin het om pylinkvis aan pylsterte te voer. Die pylsterte het die klank van die motorbote met kos begin verbind en besoek dié gebied dus deur die jaar.[54]

'n Pylstert in Stingray City, Groot-Kaaiman.

Daar is twee skeepswrakke aan die kus van Kaaiman-brac.[55] Groot-Kaaiman het ook verskeie skeepswrakke. Seerowersweek is 'n jaarlikse fees van 11 dae in November wat in 1977 deur die destydse minister van toerisme begin is om toerisme 'n hupstoot in die eilande se stil seisoen te gee.[56]

Ander toeristeattraksies op Groot-Kaaiman sluit in 'n seetemapark, Cayman Turtle Centre; die vervaardiging van fynproewerseesout; en 'n wandelpad deur die woud in die middel van die eiland.[57]

Nog 'n attraksie op Groot-Kaaiman is die Uitkyktoring in Camana Bay. Dit is amper 23 meter hoog en bied 'n uitsig van 360 grade oor Seven Mile Beach, George Town en ander plekke. Dit is gratis oop vir die publiek en is 'n gewilde uitklimtoring.[58]

Arbeid

[wysig | wysig bron]

Die Kaaimanseilande het 'n bevolking van 84 738 (2023) en daarom 'n beperkte arbeidsmag.[59] Werkpermitte word dus aan buitelanders uitgereik. Daar is gemiddeld meer as 24 000 buitelanders met geldige werkpermitte.[60]

Werkpermitte vir nieburgers

[wysig | wysig bron]

Om as nieburger op die Kaaimanseilande te werk het jy 'n permit nodig. Dit behels 'n agtergrondkontrolering deur die polisie en 'n gesondheidstoets. 'n Voornemende werker moet aan sekere mediese vereistes voldoen, soos om negatief vir sifilis en MIV te toets.

'n Buitelander moet eers 'n werk hê voordat hy na die eilande kan verhuis. Die werknemer doen aansoek en betaal vir die werkpermit.[61] Werkpermitte word nie toegeken aan buitelanders wat op die eilande is nie (tensy dit 'n hernuwing is). Die departement van immigrasie vereis dat buitelanders buite die eilande bly totdat die werkpermit goedgekeur is.[62]

Buitelandse werkers mag vir 'n maksimum van nege jaar op die eilande werk, tensy hulle aan die kriteria van sleutelwerknemers voldoen. Ná 'n brugjaar mag hulle vir nog nege jaar werk. Dié beleid is die onderwerp van omstredenheid in die pers. Veral regsfirmas is ontsteld oor die werwingsprobleme wat dit veroorsaak.[63] Ook duikinstrukteurs en eiendomsagente het hulle kommer daaroor uitgespreek. Ander ondersteun die beleid as nodig om Kaaimanseilandse identiteit te beskerm in die lig van die immigrasie van 'n groot aantal werkers van buite.[64] Die meeste Kaaimanseilanders dink ook dit is nodig om die plaaslike kultuur te beskerm sodat dit nie uitgewis word deur die baie buitelanders wat verblyf- en burgerskapspermitte kry nie.[65]

Regering

[wysig | wysig bron]
Koning Charles III, huidige staatshoof van die Kaaimanseilande.
Jane Owen, die huidige goewerneur.

Die Kaaimanseilande is 'n Britse oorsese gebied, volgens die VN een van die 16 nieselfregerende gebiede. Die huidige grondwet, wat 'n handves van menseregte insluit, is in 2009 deur die Verenigde Koninkryk verorden.[66] Die parlement van 19 lede (dit sluit twee nieverkose lede uit wat deur die goewerneur aangestel word) word elke vier jaar deur die eilandbewoners gekies om binnelandse sake te hanteer.[67] Van die verkose lede word sewe verkies om in 'n ministerskabinet onder die goewerneur te dien. Die goewerneur stel die premier aan.[68]

Die goewerneur word deur die Britse koning op advies van die Britse regering aangestel om die monarg te verteenwoordig.[69] Wette wat deur die parlement goedgekeur word, verg die goedkeuring van die koning voordat hulle in werking tree. Die uitvoerende mag van die Kaaimanseilande berus by die koning en word deur die regering (die goewerneur en parlement) uitgeoefen.[70]

Die twee amptelike parlementslede wat deur die goewerneur aangestel word, is die adjunkgoewerneur en prokureur-generaal. Hoewel hulle setels in die parlement het, volgens die grondwet van 2009, stem hulle nie. Hulle dien in 'n professionele en adviserende rol.

Byna 80 departemente, afdelings en eenhede voer die regeringspligte uit. Hulle word ondersteun deur 'n paar statutêre rade en owerhede wat vir 'n spesifieke doel daargestel word, soos die hawebestuur, die burgerlugvaartowerheid, die immigrasieraad, die waterbestuur, die nasionale pensioenraad en die gesondheidsversekeringskommissie.

Sedert 2000 is daar twee amptelike groot politieke partye: die Verenigde Demokratiese Party en die Progressiewe Volksbeweging. Baie kandidate stel hulle as onafhanklikes beskikbaar. Die twee partye is merkwaardig eenders, maar beskou mekaar as mededingers. Meestal lê die verskille in persoonlikhede en toepassing, eerder as in werklike beleid.[71] Sedert die verkiesing van Mei 2017 vorm die twee partye saam met drie onafhanklike lede 'n koalisie ongeag baie jare van vyandelikheid.[72]

Polisie en weermag

[wysig | wysig bron]

Polisiëring op die eilande word hoofsaaklik toegepas deur die Kaaimanseilandse polisediens en die Kaaimanseilandse doeane en grensbeer. Hulle werk saam in aspekte van regstoepassing en het saam 'n mariene eenheid.[73][74]

'n Posseël met koningin Elizabeth II op, 1953.

Die verdediging van die eilande is die verantwoordelikheid van die Verenigde Koninkryk. Die Britse vloot onderhou 'n permanente skip in die Karibiese See (HMS Medway) en soms nog 'n skip. Die skepe se hoofdoel in die streek is om Britse soewereiniteit vir die oorsese gesbied te handhaaf, om humanitêre hulp te verleen en bystand te verskaf tydens rampe soos orkane, wat algemeen in die gebied is, en om operasies teen dwelms uit te voer. In Julie 2024 is die patrollieskip HMS Trent na die eilande gestuur om hulp te verleen in die nadraai van Orkaan Beryl.[75]

Buitelandse betrekkinge

[wysig | wysig bron]

Die Kaaimanseilande se buitelandse beleid word deur Brittanje beheer. In die vroeë tyd van die gebied se bestaan was die belangrikste betrekking egter met Brittanje en Jamaika. In onlangse jare het 'n verhouding met die VSA ontstaan vanweë ekonomiese afhanklikheid.

Vanweë die eilande se status as 'n oorsese gebied van Brittanje, word die eilande nie apart verteenwoordig in die Verenigde Nasies of die meeste ander internasionale organisasies nie. Hulle neem egter steeds deel aan sommiges, soos Unesco en Interpol.[76]

Vervoer

[wysig | wysig bron]

George Town is die hoofhawestad van die Kaaimanseilande. Daar is drie bootterminale in die stad, die Noordelike, Suidelike en Koninklike Watler-terminaal. Die rit van die boot tot die terminale duur sowat vyf minute.[77]

Daar is drie lughawens. Die nasionale lugdiens is Cayman Airways, wat die Internasionale Lughawe Owen Roberts gebruik. Die ander twee lughawens is die Internasionale Lughawe Charles Kirkconnell en die Edward Bodden-vliegveld.

Die eilande het drie snelweë en verskeie hoofpaaie na die hoofstad: die East-West Arterial Bypass, Shamrock Road, Linford Pierson Highway, Esterly Tibbetts Highway, North Sound Road, South Sound Road en Crewe Road.

Opvoeding

[wysig | wysig bron]

Die departement van opvoeding bestuur staatskole. Kinders is geregtig op gratis laer- en hoërskoolopvoeding. Daar is twee openbare hoërskole op Groot-Kaaiman, die Sekondêre Skole John Gray en Clifton Hunter, asook een op Kaaiman-brac, Layman E. Scott. Verskeie privaat skole word deur kerke en privaat stigtings beheer.

Die Universiteitskollege van die Kaaimanseilande het kampusse op Groot-Kaaiman en Kaaiman-brac en is die enigste universiteit wat deur die regering bedryf word.[78]

Die Internasionale Kollege van die Kaaimanseilande is 'n privaat kollege op Groot-Kaaiman. Dit is in 1970 gestig en bied verskeie graadkursusse aan.[79] Op Groot-Kaaiman is daar ook die Sint Matthew-universiteit, wat 'n mediese en veeartsenyskool insluit.[80] Die Kaaimanseilandse Regskool is 'n tak van die Universiteit van Liverpool en is op Groot-Kaaiman gebaseer.[81]

Die Kaaimanseilandse Staatsdienskollege, 'n eenheid van die regering, is op Groot-Kaaiman geleë. Dit bied verskeie graad- en ander kursusse aan. Die kollege is in 2007 geopen en word ook as 'n regeringsnavorsingsentrum gebruik. Daar is ook 'n kampus van die Universiteit van Wes-Indië in die gebied.[82]

Sport

[wysig | wysig bron]

Die Truman Bodden-sportkompleks is 'n veeldoelige gerief in George Town. Daar is verskeie sportvelde en 'n buitenshuise swembad van 25 m lank met ses lane. Die stadion het plek vir 3 000 mense.

Sokker is die nasionale en gewildste sportsoort. Die Kaaimanseilandse nasionale sokkerspan verteenwoordig die eilande in FIFA.[83]

Die Kaaimanseilandse nasionale basketbalspan het in 2011 vir die eerste keer aan die Karibiese Basketbalkampioenskapsbyeenkoms deelgeneem. Die nasionale manspan het in 2017 en 2019 agtereenvolgens goue medaljes in die Natwest-eilandespele gewen. Rugby is 'n ontwikkelende sportsoort en die eilande het 'n nasionale mans-, vroue- en sewesspan.

Die Kaaimanseilande is lid van FIFA, die Internasionale Olimpiese Komitee en die Pan-Amerikaanse Sportorganisasie, en neem ook deel aan die tweejaarlikse Eilandespele.[84]

Die eilande is lid van die Internasionale Krieketraad. Die nasionale krieketspan verteenwoordig die eilande in internasionale krieket. Hulle ding op verskeie vlakke mee. In 2012 het hulle deelgeneem aan afdeling vyf van die Internasionale Krieketliga.[85]

Nog gewilde sportsoorte sluit in muurbal, sagtebal en strandvlugbal.

In April 2005 is die Black Pearl-skaatspark deur Tony Hawk op Groot-Kaaiman geopen. Die park van 4 800 m2 was destyds die grootste in die Westelike Halfrond.[86][87]

Kuns en kultuur

[wysig | wysig bron]

Die Kaaimanseilandse Kultuurstigting bestuur die F.J. Harquail-kultuursentrum en Harquail-teater. Die stigting, wat in 1984 gestig is, help Kaaimanseilandse folkmusiek bewaar en bevorder. Dit sluit die organisering van feeste soos die Internasionale Storievertellingsfees, die Jazzfees en Cayfest in.[88] Die jazz-, calypso- en reggaemusiekgenres kom prominent in die eilande se musiek voor.[89]

Die Nasionale Galery van die Kaaimanseilande is 'n kunsmuseum in George Town.[90] Dit is in 1996 gestig en hou uitstallings, opvoedings-/uitreikingsprogramme en navorsingsprojekte op die eilande. Dit is 'n niewinsgewende instelling en deel van die departement van gesondheid en kultuur.[91]

Twee koerante word op die eilande gedruk: die Cayman Compass en The Caymanian Times. Aanlyn nuusdienste sluit in Cayman Compass, Cayman News Service, Cayman Marl Road, The Caymanian Times en Real Cayman News.[92] Daar is ook verskeie radiostasies.

Rolprente wat op die Kaaimanseilande geskiet is, sluit in : The Firm, Haven, Cayman Went[93] en Zombie Driftwood.[94]

Drie televisiestasies saai uit, onder meer een wat deur die regering besit word. Daar is ook drie verskaffers van kabeltelevisie.[95] Vinnige internet is ook algemeen beskikbaar.[96]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. "Cayman Islands – Place Explorer". Data Commons. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Augustus 2022. Besoek op 19 Maart 2022.
  2. Boxall, Joanna (18 Februarie 2021). "Facts & Figures of the Cayman Islands". Cayman Resident. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Maart 2022. Besoek op 19 Maart 2022.
  3. Rogoff, Natasha Lance (19 Februarie 2004). "Tax me if you can. Haven or Havoc?". Pbs.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2004. Besoek op 25 Augustus 2017.
  4. Keegan, William F.; Hofman, Corinne (2017). The Caribbean before Columbus (ebook uitg.). New York, New Yoirk: Oxford University Press. p. 6. ISBN 9780190647353.
  5. "World Directory of Minorities and Indigenous Peoples – Cayman Islands". www.refworld.org.
  6. 6,0 6,1 6,2 6,3 "History of Cayman Islands". Cayman Islands Government. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 September 2018. Besoek op 7 Julie 2019.
  7. 7,00 7,01 7,02 7,03 7,04 7,05 7,06 7,07 7,08 7,09 "Cayman Islands". Encyclopædia Britannica. 
  8. 8,0 8,1 8,2 8,3 8,4 8,5 "History of the Cayman Islands". Explore Cayman. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Maart 2021. Besoek op 7 Julie 2019.
  9. Bauman, Robert (2007). The Complete Guide to Offshore Residency. The Sovereign Society. p. 115. ISBN 978-0-9789210-9-5.
  10. 10,0 10,1 10,2 "Key to Cayman - HISTORY – ISLANDS THAT TIME FORGOT". 22 Januarie 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2021. Besoek op 7 Julie 2019.
  11. Thompson, Keith (2010). Life in The Caribbean. New Africa Press. p. 152. ISBN 978-9987-16-015-0.
  12. "Cayman Islands History". Gocayman.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Oktober 2008.
  13. The Cayman Islands Annual Report 1988, Cayman Islands, 1988, p. 127 
  14. Cawley, Charles. Colonies in Conflict: The History of the British Overseas Territories.
  15. Newman, Graeme R. (2010). Crime and Punishment Around the World: Africa and the Middle East. Abc-Clio, LLC. p. 82. ISBN 978-0-313-35133-4..
  16. "Airport Authority of Cayman Islands – CIAA". Caymanairports.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2021. Besoek op 13 Mei 2021.
  17. Biswas, Rajiv (2002). International Tax Competition: A Developing Country Perspective. Commonwealth Secretariat. p. 38. ISBN 0-85092-688-2..
  18. Thompson, Keith (2010). Caribbean Islands: The Land and the People. New Africa Press. p. 152. ISBN 978-9987-16-018-1.
  19. "Hurricane Ivan Remembered". Hazard Management Cayman Islands. Besoek op 26 Julie 2012.
  20. "Grand Cayman's history with tropical systems". hurricanecity.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 April 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  21. "Publications". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Desember 2015. Besoek op 23 Desember 2015.
  22. Bush, Phillippe G. Grand Cayman, British West Indies Geargiveer 19 Februarie 2012 op Wayback Machine. UNESCO Coastal region and small island papers 3.
  23. "Coordinates + total distance". web page. mapcrow. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Januarie 2012. Besoek op 23 Oktober 2011.
  24. Bush Geargiveer 19 Februarie 2012 op Wayback Machine. Unesco.org. Besoek op 12 April 2014.
  25. Glenn Gerber. "Lesser Caymans iguana Cyclura nubila caymanensis". web page. The World Conservation Union. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Oktober 2011. Besoek op 23 Oktober 2011.
  26. "World Atlas Highest and Lowest points". web page. Graphic Maps. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Augustus 2011. Besoek op 23 Oktober 2011.
  27. Askew, R.R. en Stafford, P.A. van B. (2008) Butterflies of the Cayman Islands. Apollo Books, Stenstrup. ISBN 978-87-88757-85-9.
  28. Grand Cayman Blue Iguana takes step back from extinction Geargiveer 11 November 2012 op Wayback Machine. IUCN (20 October 2012). Besoek op 12 April 2014.
  29. [1] [dooie skakel]
  30. Morgan, Gary; Franz, Richard; Ronald Crombie (1993). "The Cuban Crocodile, Crocodylus rhombifer, from Late Quaternary Fossil Deposits on Grand Cayman" (PDF). Caribbean Journal of Science. 29 (3–4): 153–164. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2022.
  31. "The Cayman Islands – History". Gov.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 September 2018. Besoek op 17 Augustus 2018.
  32. "When to Go in Cayman Islands | Frommer's". Frommers.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Oktober 2016. Besoek op 28 September 2016.
  33. Boxall, Simon (9 September 2008). "Hurricane Ivan Remembered – Cayman Prepared". Gov.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Februarie 2021. Besoek op 22 April 2012.
  34. "Demographic Characteristics". Cayman Islands Government. 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2022. Besoek op 20 September 2022.
  35. "Premier: Census shows Cayman needs more careful, managed growth". 28 Julie 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 September 2022. Besoek op 1 September 2022.
  36. "Census reveals 56% of workers not Caymanian". Caymannewsservice.com. 25 Februarie 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2022. Besoek op 19 Maart 2022.
  37. Boxall, Joanna (11 Januarie 2023). "The History of Slavery in the Cayman Islands". Cayman Resident (in Engels). Besoek op 23 Mei 2023.
  38. "Ageing society one of Cayman's demographic challenges". 14 Maart 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Maart 2022. Besoek op 14 Maart 2022.
  39. "Premier: Census shows Cayman needs more careful, managed growth". 28 Julie 2022. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Julie 2022. Besoek op 28 Julie 2022.
  40. 40,0 40,1 40,2 40,3 "Central America :: Cayman Islands — The World Factbook – Central Intelligence Agency". Cia.gov. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Januarie 2021. Besoek op 5 Augustus 2020.
  41. "The Cayman Islands' 2021 Census of Population and Housing Report" (PDF). Economics and Statistics Office, Government of the Cayman Islands. Julie 2022. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2022.
  42. The Jewish Community of the Cayman Islands www.jewish.ky Geargiveer 22 Januarie 2020 op Wayback Machine
  43. Kettani, Houssain. "Muslim Population in the Americas". ResearchGate.
  44. "Strongest Currencies in the World". Forbes. 5 Julie 2023.
  45. "Cayman Islands – Central Intelligence Agency". The World Factbook. 29 November 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Januarie 2021. Besoek op 24 Januarie 2021.
  46. "The Cayman Islands – home to 100,000 companies and the £8.50 packet of fish fingers". The Guardian. 18 Januarie 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Januarie 2016. Besoek op 16 Februarie 2020.
  47. "Unemployment, total (% of total labor force) (national estimate) – Cayman Islands". World Bank. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 September 2019. Besoek op 22 September 2019.
  48. "CIA – The World Factbook – Cayman Islands". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Januarie 2021. Besoek op 10 November 2020.
  49. Whittaker, James; Klein, Michael (9 Februarie 2021). "Counting the cost of living in the Cayman Islands". Cayman Compass. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2021. Besoek op 19 Oktober 2021.
  50. Whittaker, James; Klein, Michael (9 Februarie 2021). "Cayman shoppers pay premium for groceries". Cayman Compass. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2021. Besoek op 19 Oktober 2021.
  51. "A Bill for a Law to Increase Various Duties Under the Customs Tariff Law (2002 Revision); to Increase the Rates of Package Tax; And for Incidental and Connected Purposes" (PDF). Cayman Islands Legislative Assembly. 7 Desember 2009. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2022. Besoek op 25 Junie 2018.
  52. Seven Mile Beach | Grand Cayman, Caribbean Vacation | Cayman Islands Geargiveer 1 Mei 2013 op Wayback Machine. Caymanislands.ky. Besoek op 12 April 2014.
  53. Pedro St. James | Grand Cayman, Grand Cayman Island | Cayman Islands Geargiveer 12 Januarie 2012 op Wayback Machine. Caymanislands.ky. Besoek op 12 April 2014.
  54. Stingray City | Grand Cayman, Grand Cayman Vacation | Cayman Islands Geargiveer 1 Mei 2013 op Wayback Machine. Caymanislands.ky. Besoek op 12 April 2014.
  55. Tim Rock, Lonely Planet Diving & Snorkeling Cayman Islands (2de uitg. 2007, ISBN 1-74059-897-0), p. 99
  56. "Pirates Week Festival of the Cayman Islands". Piratesweekfestival.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2021. Besoek op 13 Mei 2021.
  57. "National Trust For the Cayman islands". Nationaltrust.org.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Augustus 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  58. Observation Tower | Camana Bay Geargiveer 6 September 2014 op Wayback Machine. CamanaBay.com. Besoek op 1 Augustus 2014.
  59. "The Economics and Statistics Office". Government of the Cayman Islands. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 April 2021. Besoek op 3 April 2021.
  60. "Work Permit Stats". Eso.ky. 30 Maart 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Julie 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  61. "C.I. Government Website – Entry Requirements for Work Permits". Gov.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Augustus 2022. Besoek op 31 Julie 2011.
  62. "Online Employment Resources". Island-search.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Augustus 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  63. Row brews over rollover, 22 January 2007, Cayman net News Geargiveer 5 Februarie 2009 op Wayback Machine
  64. Government takes up permit issue Geargiveer 14 September 2007 op Wayback Machine, Editorial, 5 March 2006, Camanian Compass
  65. "Cayman Observer". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Januarie 2017. Besoek op 23 Junie 2008.
  66. "The Cayman Islands Constitution Order 2009" (PDF). legislation.gov.uk. 2009. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2022.
  67. "Commonwealth elections observers give Cayman Islands high marks". Caribbeannewsnow.com. Caribbean News Now. 27 Mei 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Januarie 2014. Besoek op 28 Mei 2013.
  68. Cayman Islands Constitution, 2009, part III article 49
  69. Cayman Islands Constitution, 2009, part II
  70. Constitution article 43
  71. "Official Register of Political Parties" (PDF). Cayman Islands Elections Office. 29 Augustus 2018. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 29 Augustus 2018. Besoek op 29 Augustus 2018.
  72. "Premier McLaughlin to lead 13-member coalition government". Cayman Compass. 31 Mei 2017. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Augustus 2018. Besoek op 29 Augustus 2018.
  73. "Police Service in the Cayman Islands". Royal Cayman Islands Police Service. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Maart 2020. Besoek op 5 Februarie 2020.
  74. "Home". Cayman Islands Customs & Border Control Service. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Februarie 2021. Besoek op 28 Januarie 2021.
  75. "Royal Navy warship sailing to Caribbean to support hurricane relief effort". Forces Net. 4 Julie 2024. Besoek op 5 Julie 2024.
  76. "United Kingdom / Europe / Member countries / Internet / Home – INTERPOL". Interpol.int. 30 Desember 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 Desember 2012. Besoek op 30 Desember 2012.
  77. "Cayman Islands Cruise – Grand Cayman Island, Grand Cayman – Cayman Islands". Caymanislands.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2013. Besoek op 28 Mei 2013.
  78. "University College Cayman Islands: About us". Ucci.edu.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Julie 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  79. "International College of the Cayman islands: Programs of Study". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2011.
  80. "St. Matthew's University". Stmatthews.edu. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  81. "Cayman Islands law School". Liv.ac.uk. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2012. Besoek op 31 Julie 2011.
  82. "The Open Campus in Cayman Islands". University of the West Indies. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Februarie 2021. Besoek op 28 Januarie 2021.
  83. "Moving to Cayman Islands : Sport!". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Maart 2022. Besoek op 12 September 2021.
  84. "NatWest Island Games XVI Jersey 2015 Results – Sports – Swimming – Men's 200m Individual Medley". Jersey2015results.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Julie 2015. Besoek op 30 Junie 2015.
  85. "International Cricket Council: Cayman Islands". Icc-cricket.yahoo.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2011. Besoek op 31 Julie 2011.
  86. "An Informative guide of Black Pearl – Cayman Islands". Blackpearl.ky. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Maart 2022. Besoek op 10 April 2022.
  87. "Black Pearl Skateboarding at the Grand Cayman Islands". Ieyenews.com. 31 Januarie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 November 2020. Besoek op 7 Desember 2020.
  88. "Cayman Festival and Events | Cultural Schedule". Artscayman.org. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Februarie 2018. Besoek op 4 Februarie 2018.
  89. "Pop music from Cayman Islands". Online Radio Box. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Junie 2018. Besoek op 21 Junie 2018.
  90. "Cayman Islands Government Directory". Gov.ky. Besoek op 10 April 2022.
  91. "About Us". National Gallery of the Cayman Islands. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 April 2020. Besoek op 25 November 2019.
  92. Wright, Jessica (11 Januarie 2023). "Local News in the Cayman Islands: Print & Online". Cayman Resident (in Engels). Besoek op 23 Mei 2023.
  93. Quinnie110 (5 Junie 2009). "Cayman Went (2009)". IMDb.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 April 2017. Besoek op 1 Julie 2018.
  94. "Zombie Driftwood (2010)". IMDb.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Februarie 2017. Besoek op 1 Julie 2018.
  95. "Television in Cayman". caymanresident.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2020. Besoek op 2 Julie 2021.
  96. "Internet Providers". caymanresident.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Oktober 2020. Besoek op 2 Julie 2021.

Nog leesstof

[wysig | wysig bron]

Skakels

[wysig | wysig bron]


Vlag van die Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk Wapen van die Verenigde Koninkryk
LandeEngelandSkotlandWallisNoord-Ierland
Oorsese gebiedeAnguillaBermudaBrits-Antarktiese GebiedBritse Indiese OseaangebiedBritse Maagde-eilandeFalkland-eilandeGibraltarKaaimanseilandeMontserratPitcairneilandeSint Helena, Ascension en Tristan da CunhaSuid-Georgië en die Suidelike SandwicheilandeTurks- en Caicoseilande
KroongebiedeEiland ManGuernseyJersey
Sowereine militêre basisseAkrotiri en Dhekelië