Deurknip
Knippe omvat al die meganismes wat vir die grendeling van deure, vensters, ensovoorts, gebruik kan word. Een van die oudste tipes is die skuifbout, 'n langwerpige metaalpen met 'n vierkantige of reghoekige gedeelte wat aan die muur bevestig kan word, en wat in 'n oog of gleuf in 'n deur inskuif.
Die ronde L-vormige skuifbout kan met 'n kwartdraai dwarsgedraai word nadat dit in die oog ingeskuif is. Dit is dan onmoontlik om die pen te laat terugskuif tensy die been weer teruggedraai word. Soms word 'n ketting as deel van die bout gebruik. Dit word 'n kettingbout genoem en dit laat toe dat die deur 'n entjie oopgaan, maar die ketting verhoed dat die deur van buite af heeltemal oopgemaak kan word. Die spanjolet word veral by dubbeldeure en -vensters gebruik.
Twee vertikale stange word deur ʼn enkele handvatsel verskuif sodat dit in 2 gleuwe in die boonste en die onderste kosyn kan inskuif. Vroeër was die klink 'n algemene knip. Dit kon met die hand om 'n pen gedraai word en met die sluitaksie het dit vanweë swaartekrag binne-in 'n yster- of houtgleuf ingeval. Moderne deurknippe vorm meestal deel van 'n slot wat toegerus is met 'n draaiknop wat die grendel van die slot ooptrek. Dieselfde beginsel word ook by vensters toegepas, maar in plaas van 'n draaiknop word 'n trekoog gebruik.
Om 'n deur of venster elektries te kan oopmaak, word gebruik gemaak van 'n elektromagneet wat die grendel ooptrek. Om die deur te sluit, word dikwels gebruik gemaak van 'n deursluiter wat met 'n sterk veer toegerus is. Om die deur langsamer te laat toegaan, word 'n deursluiter met 'n veer en olierem gebruik. Winkeldeure of deure in kantoorgeboue of fabrieke kan dikwels oop gehou word deur middel van ʼn haaktoestel of met behulp van spesiale skarnier.
Lees ook
[wysig | wysig bron]Bronnelys
[wysig | wysig bron]- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409664, volume 25, bl. 138