Maleisiese Grand Prix
Die Maleisiese Grand Prix was 'n jaarlikse Formule Eenmotorwedren in Sepang, Maleisië. Die finale wedren was op 1 Oktober 2017.
Geskiedenis
wysigDie wedren is op 17 Oktober 1999 vir die eerste keer by die Sepang Internasionale Renbaan gehou en is deur Eddie Irvine gewen, wat hom gehelp het met sy kampioenskapambisies, met sy Ferrari-spanmaat Michael Schumacher in die tweede plek. In 2000 het Michael Schumacher gewen, met Rubens Barrichello tweede. Dit was dieselfde geval in 2001, behalwe vir 'n kort reënbui wat die ren net na die wegspring getref het. In 2002 het Ralf Schumacher gewen en in 2003 het Kimi Räikkönen sy deurbraakoorwinning behaal.
In 2004 het Michael Schumacher weereens gewen. Fernando Alonso het in 2005 gewen en in 2006 het Giancarlo Fisichella gewen met Alonso tweede. Fernando Alonso het sy eerste oorwinning vir die McLarenspan behaal in 2007 en in 2008 het Kimi Räikkönen weereens gewen.
Die rekordwenner in Maleisië is Sebastian Vettel met 4 oorwinnings.
Politiek
wysigOp 22 Januarie 2008 word aangekondig dat die baandirekteur Mokhzani Mahathir vanaf 2009 'n nagwedren op hierdie baan wil hou. Weens die hoë koste kon hierdie plan egter nie voortgaan nie. Daar is eerder besluit om die wedren 'n bietjie later in die dag te hou. Die temperature is dan laer, en Europese TV-kykers kon die wedren regstreeks volg op 'n tyd wat vir hulle normaal is.
Die laaste byeenkoms van die Grand Prix is in 2017 gehou. Volgens die Maleisiese regering was die wedloop nie meer winsgewend nie. Max Verstappen het die laaste wedren gewen.