[go: up one dir, main page]

Gaan na inhoud

Lassakoors

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Lassakoors
Klassifikasie en eksterne bronne
Gemeenskapsonderrigmateriaal vir Lassakoors
Gemeenskapsonderrigmateriaal vir Lassakoors
ICD-10 A96.2
ICD-9 078.8
DiseasesDB 7272
MeSH D007835
Mediese waarskuwing

Lassakoors is 'n baie besmetlike, akute en aanmeldbare virussiekte beperk tot Afrika. Die virus word oorgedra deur die Natalse vaalveldmuis (Mastomys natalensis). Die siekte word gekenmerk aan 'n hoë koors en die ontsteking van verskeie organe. Tans bestaan daar geen geneesmiddel teen lassakoors nie en ongeveer die helfte van die pasiënte wat die virus opdoen, sterf. Dit is vernoem na die plek Lassa in Nigerië waar dit in 1969 ontdek is. Die virus ressorteer net soos die Marburgkoors onder die hemorragiese (d.w.s. bloeding-) koorssoorte.

In Maart 2018 is die Lassakoors in die volgende Afrikastate as endemies beskou: Benin, Ghana, Guinee, Liberië, Mali, Nigerië, Sierra Leone en Togo. Die virus kom ook sporadies voor in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Senegal en ander Afrikalande.[1]

Omskrywings in Afrikaanse woordeboeke

[wysig | wysig bron]

Volgens die WAT word lassakoors omskryf as: "Uiters aansteeklike koorssiekte met 'n hoë sterftesyfer, gekenmerk deur die aantasting van verskillende organe, mondsere en 'n veluitslag, en veroorsaak deur 'n virus wat deur die vaalveldmuis, Praomys (Mastomys) natalensis, n.d. mens oorgedra word."[2]

In die Pharos Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe (2011) word geskryf onder "Lassa-koors" : "Soönotiese, hemorragiese virussiekte met hoë mortaliteit, endemies in Sentraal-Wes-Afrika."[3]

Ontdekking

[wysig | wysig bron]

Tussen 1950 tot 1970 is 107 persone as gevolg van die navorsing alleen oorlede.[4]

Lassakoors is in 1969 die eerste maal identifiseer en geïsoleer. In Nigerië sterf destyds 'n Amerikaanse sendelingsuster (Laura Wine) aan 'n vreemde siekte; sy het by 'n pasiënt in die kraamsorg aangesteek; dit was in die dorpie geleë in die deelstaat, Borno, Nigerië.[5][6][7] Wine word na die Nigeriese stad Jos gebring, waar sy oorlede is. Daarna word nog twee persone besmet, waaronder die 42-jarige verpleegster Lily Pinneo, wat na Laura Wine omgesien het.[8] Die ander (anonieme) verpleegster is in Jos dood.[9]

Pinneo is eers na Lagos vervoer, en vandaar na New York. Sy bring volgens die beriggewing op 12 Februarie 1970 reeds nege weke in die hospitale deur, verloor 14 kilogram en byna al haar hare het uitgeval.[4]

Monsters van Pinneo is na die Yale-universiteit in New Haven gestuur, waar die siekte vir die eerste maal as 'n nuwe virus, vandag bekend as Lassa mammarenavirus, geïsoleer is.[10] Pinneo het herstel.[11]

In Junie 1969 word dr. Jordi Casals, wat leiding verskaf het tydens die Yale-ondersoek ernstig siek, en ook hy word in die hospitaal opgeneem. Die bloed wat ondertussen van die herstellende Lily Pinneo tot 'n soort inentingsstof gemaak is, het wel dr. Casals se lewe gered. Hy keer toe terug na Yale om die ondersoek voort te sit, maar die ondersoek word gestaak toe 'n assistent van dr. Casals, naamlik Juan Roman, die siekte kry en sterf.[4] In 1970 het Yale verklaar dat waarskynlik niemand gevaar loop om in die Verenigde State die siekte op te doen nie. Die wetenskaplikes in Afrika is wel vroegtydig gewaarsku.[4]

Die wetenskaplikes het meer as 640 verskillende diere in die Lassaomgewing gevang. Bloed, longe, harte, milte en niere is na die gespesialiseerde laboratorium van de Amerikaanse sentrum vir siektebestryding en -voorkoming (CDC) gestuur.[12] In 1972 is vasgestel dat die Natalse vaalveldmuis (Mastomys natalensis) die vernaamste virusdraer is wat vryelik in Wes-Afrika voorkom; die virus word deur die urine en stoelgang uitgeskei, sonder om enige sigbare simptome te toon.[13][14]

In 1973 is daar in 'n Londense hospitaal 'n vrou met die siekte opgeneem, maar sy genees daarvan.[11]

Op 20 Maart 1974 word berig 'n Wes-Duitse arts, die 33-jarige Bernhard Mandrella, sou binne enkele dae per virusdigte Amerikaanse Apollo-kapsule (of, maankapsule) vanaf Nigerië na die Duitse Bondsrepubliek vervoer word. Daar was ook bietjie politiek hierby betrokke, want die Wes-Duitse deskundiges wou glad nie gehad het dat 'n uiters besmetlike siekte oor Europa se drumpel ingevoer moes word nie, terwyl die Nigeriese regering aangevoer het dat die lassakoors 'n epidemie onder die blankes kon veroorsaak, want, so het die Nigeriese regering destyds aangevoer: slegs blankes het tot dusver die siekte onder lede gekry. Mandrella was in diens van 'n Wes-Duitse katolieke organisasie vir ontwikkelingshulp, en het dieselfde siekte by 'n kollega aangesteek wat enkele weke tevore aan die siekte oorlede is ("bakteriële bloedvergiftiging" was die onjuiste diagnose destyds).[15] Hierdie 29-jarige kollega werksaam by die hospitaal in Onitsha (sterf 20 Februarie 1974)[16][17] se naam was Egon Sauerwald. Die plan was: Mandrella sou eers na 'n isolasiestasie in Ebstorff op Lünenburger Heide gebring, voordat hy aan die Duitse Tropeinstituut in Hamburg toevertrou is. Die Wes-Duitse regering dra die koste van die reddingsaksie.[18] Op 21 Maart 1974 vertrek die Wes-Duitse Boeing 707 vanuit Duitsland na Nigerië om die dokter te gaan haal. Die dokter is ondersoek deur prof. J. Casals van die Yale-universiteit. Tussendeur die toutrekkery tussen die Wes-Duitse ministeries wat gedoen moes word, het die Stuttgartse Reddingsdiens die knoop deurgehak en die sieke sonder kapsule gaan haal. 'n Lugdigte kajuit is wel ingebou.[17] Casals het besluit dat die infeksiegevaar oor sy ergste was, maar dat die behandeling in Europa dringend noodsaaklik sou wees. Ook die Duitse mediese spesialiste was dit eens dat die ergste besmettingsgevaar verby is. Die gebruik van NASA se kapsule was dus onnodig; volgens die Amerikaners sou die voorbereiding van die kapsule nog twee dae moes duur, terwyl die Wes-Duitse ministerie onseker was of die Duitse lugmag 'n vliegtuig groot genoeg gehad het om hierdie isolasiekapsule in te monteer en te vervoer.[19][20] Ook Lufthansa het ingewillig tot die reddingsaksie, al sou dit beteken het die bemanning moes 14 dae in kwarantyn verkeer.[21] Die Boeing 707 land die aand van 21 Maart 1974 op die Hamburgse vliegveld wat hermeties afgeslote was. Niemand, buiten die hospitaalpersoneel, mag binne 'n radius van 100 meter van Mandrella kom nie.[22] Op die Boeing-707 is Mandrella vergesel deur vier bemanningslede, twee dokters, drie Nigeriese verpleegsters en een verteenwoordiger van die Wes-Duitse Ministerie van Volksgesondheid. Weens die geharwar, het minstens 'n week verloop voordat die Duitse owerheid uiteindelik dr. Mandrella te hulp gesnel het.[23] Die dokter is ook, wel soos beplan, na die (pokke)kwarantynkliniek in Ebstorff, Nedersakse, oorgeplaas;[17][24] by sy vervoer is sover moontlik alle digbevolkte gebiede vermy.[25] Op 9 April 1974 word berig die Duitse dokter is genees, en dr. Mandrella wil dadelik terugkeer na Nigerië waar hy die siekte opgedoen het.[26] Op 13 April word berig dat hy binnekort ontslaan sou word uit die kwarantynafdeling van die Hamburgse trope-instituut op die Lüneburger Heide.[27] Dr. Mandrella keer op 20 Junie 1974, volkome genees, na die hospitaal in Onitsha terug om sy werk daar te hervat. Hy het wel sy bloed beskikbaar gestel vir die vervaardiging van 'n serum. [28]

Die Wêreldgesondheidsorganisasie in Genève beskou dit in 1974 as "volstrekte onsin" dat die gevreesde Lassakoors, volgens die Duitse bronne, slegs blankes sou tref in Nigerië. Skaars 'n jaar nadat die virus in 1969 'n naam gekry het, breek 'n klein epidemie in Bassa (in Midde-Nigerië) en in 1972 by Zorzor (Liberië) en Sierre Leone vernaamlik onder swart inwoners van hierdie lande uit. Gemiddeld sterf daar ongeveer 50 persent van die pasiënte. Die organisasie voer ook aan via die urine van knaagdiere, veral van een bepaalde "rot" wat in Nigerië, Guinee, Sierra Leone en Liberië baie voorkom, kan 'n mens, ongeag sy velkleur, besmet word. Mense kan ook die draer van die siekte wees, sonder om enige simptome te toon. Die draers kan dus ook dan ander mense besmet.[9]

In 1970 is daar 'n tweede uitbraak van die epidemie, en inderdaad in Jos, Nigerië, en ook in 'n hospitaal. 28 pasiënte word geraak, waarvan 27 Nigeriërs. Dit het getoon dat dit nie alleen blankes is wat getref word soos algemeen beweer is nie, maar wel pasiënte of die verplegende personeel. Nagenoeg die helfte sterf. Nog 'n epidemie volg in 1972 in Liberië, weereens in 'n hospitaal (daar was 11 pasiënte) en in Sierre Leone. By laasgenoemde duur die epidemie 'n jaar lank, en die aantal siekes styg tot 63. Ook ongeveer die helfte van die siekes sterf. Die deskundiges het begin besef daar is veel meer mense daarbuite wat die siekte onder lede het as wat aanvanklik vermoed is, maar slegs by enkeles ly dit tot 'n ernstige toestand.[11]

Die siekte begin gewoonlik met koors, koue rillings, algemene siektegevoel met spierpyne en hoofpyn. Die simptome neem drasties toe, en gaan gepaard met duiseligheid, keelpyn, hoes, maagpyn en buikloop. Die bloeddruk daal, en die pasiënt raak ontwater. Soms ontstaan 'n vlekkerige uitslag, en ander ontstekingsverskynsels in die keel.[29] Die grootste probleem is dat die simptome, soos koors, keelpyn, spierpyn, hoes, braak, buikloop en ander nie uniek is aan hierdie siekte nie; en 'n verkeerde diagnose kan gemaak word, en die pasiënt kan verkeerdelik behandeling kry vir malaria of buiktifus,[11] geelkoors, masels, pokke, en ander infeksiesiektes. Eers wanneer mens die virus in die bloed of urine agterna toets, word die virus identifiseer.[29] Die dood kan op die 11de en 15de dag van die siekte intree. Kort voor die dood intree, is die liggaamstemperatuur baie laag, die pasiënt verkeer in skok, urineproduksie stop, en die pasiënt ly aan krampe.[29]

In 1974 is bevind antibiotika werk nie, en op die lange duur is mens net besig om simptome te bestry: die pasiënt moet byvoorbeeld meer rus kry en moeite word gedoen om die pyn te verlig. En later moet iets gedoen word om die die dalende bloeddruk en die steeds swakkerwordende nierfunksie te keer. Eers dan styg die kanse op genesing.[11]

Volgens prof. Zuidema (1974) is die berig dat pasiënte alleen gered kan word met 'n serum uit die bloed van oorlede Lassakoorspasiënte verkeerd. Die gevaar bestaan juis dat die bloed ook die virus kan bevat en by die pasiënte ingespuit word. Volgens hom is daar dalk die moontlikheid dat die plasma wat verkry is uit die bloed van die pasiënte wel moontlik "antistoffen" kan bevat wat teen die siekte gebruik kan word.[11] En hierdie plasma moet kom van pasiënte wat die siekte oorleef het.[30]

Op 16 Januarie 1975 word berig 13 Nederlanders moes vir 17 dae lank, gereken vanaf die datum vanaf hul aankoms in Brussel, elke dag die dokter besoek vir simptome van die siekte, nadat hulle die vorige week in 'n vliegtuig vanaf Nigerië (Vlug SN611, op die Belgiese Sabena[31]) teruggevlieg het na Brussel saam met 'n siek 39-jarige Britse dokter, dr. Peter Kennedy.[31] Hy het die Vrydag (10 Januarie 1975) uit Kano, Nigerië, via Brussel na Londen, teruggevlieg. Die Britse dokter is 11de[31] of 12de Januarie 1975 oorlede. Die Britse arts het ook in 'n sendingshospitaal gewerk en was waarskynlik besmet met die Lassakoors. Of hy wel aan Lassakoors oorlede is, is nog onseker, omdat die laboratoriumondersoek baie tydrowend was: die bloedmonsters is na Atlanta, Verenigde State van Amerika, gestuur vir ontleding. Vir die 13 Nederlanders, of "kontakpersone", is dit maar voorsorg tref, al is die besmettingskans gering en slegs deur baie en noue kontak met die sieke oordraaglik, soos tussen 'n dokter en pasiënt. 30-50% van die gevalle lei tot sterfte. Indien die dertien Nederlanders binne 17 dae koors, keel- of buikpyn sou ontwikkel het, moes hulle afgesonder word. Die ander Britse, Belgiese en Franse reisigers op die vliegtuig is ook in kennis gestel.[32][33][34][35][36][37][38]

In Engeland hoef die passasiers wat in die vliegtuig was egter nie elke dag die dokter te besoek het nie, maar hul moes hul dokter onmiddellik in kennis stel indien hul enige simptome toon.[39][40][41] Later is vasgestel 15 Nederlanders word geraak, en nie alleen 13 nie. Dit blyk toe egter wel die Britse arts was op 'n draagbaar agter in die vliegtuig; die kontak was dus minimaal. Maar in die lugvaartkringe gaan die vraag op hoe so 'n ernstige en aansteeklike siek Britse arts in die eerste plek op die vliegtuig kon beland het, aangesien lugvaartmaatskappye gewoonlik weier om sulke pasiënte te vervoer sonder duidelike mediese verklarings. Ook sou die toetse in die Verenigde State nog 'n week duur, en teen daardie tyd sou die inkubasietydperk by die Nederlanders al verstreke wees.[42]

Op 21 Januarie 1975 is berig die 13 Nederlanders het, sedert hul op 12 Januarie op las van die Ministerie van Volksgesondheid onder daaglikse kontrole gestaan het, nog geen simptome getoon nie.[43][44][45][46][47][48][49]

Daar word toe berig die Nigeriese owerhede moes dr. Kennedy nooit laat vertrek het nie, en die Belgiese lugredery moes hom nie vervoer het nie. Die Britse pers het ook nie 'n woord gerep oor die saak nie; die BBC en die Britse onafhanklike televisie- en radiodiens het die eerste twee dae geweier om selfs melding daarvan te maak. In Engeland is minstens 200 mense so nie opgespoor wat met dr. Kennedy in aanraking kon gewees het nie. In België én Nederland is die erns van die saak wel besef, en deur die geweldige media-aandag in te span, is alle kontakpersone van die twee lande onder mediese behandeling.[31]

Op 29 Januarie 1975 is berig dr. Kennedy is wel aan Lassakoors oorlede. Maar, dit blyk uit die geval van die Britse dokter dat daar van 'n vinnige verspreiding van die siekte (alleen moontlik deur noue kontak) geen sprake is nie.[50]

Om te bewys hoe maklik die siekte verwar kan word met 'n ander:
1981: Die hospitaal De Lichtenberg in Amersfoort is die tweede hospitaal in Nederland wat 'n spesiale isolasiestasie ingerig het vir uiters besmetlike siektes, waaronder die Lassakoors.[51] Daar is twee beddens, en diegene wat in hierdie isolasieafdeling sou beland is geskat op nul tot een pasiënt per jaar.[52] Op 17 Oktober 1981, skaars drie dae ná die amptelike opening van die besondere isolasieafdeling van die Lichtenberg-hospitaal, is daar 'n 27-jarige Engelsman opgeneem wat waarskynlik aan die lassakoors ly.[53] Aanvanklik is gedink dit is 'n grap, weens die tydsberekening, en veral omdat die bou van die isolasiesentrum 6 miljoen gulden gekos het. Maar die pasiënt het op Schiphol aangekom, op 'n deurreis vanuit Kano, Nigerië, met tussenlandings op Tunis en Schiphol na Londen, Engeland, maar was eenvoudig te siek om verder deur te reis. Trouens, hy word al op 7 November siek in Nigerië; hy vertrek op 15 Oktober na Engeland, maar word so onwel, dat hy eers na die isoleerafdeling van die Wilhelmina Gasthuis gestuur is; toe daar vermoed word hy ly aan lassakoors, is hy vir verdere ondersoek na Amersfoort gebring. 'n Lys van die ander 280 passasiers en 12 bemanningslede op KLM is saamgestel, en 'n bloedmonster van die Brit is na 'n laboratorium gestuur wat spesialiseer in die ondersoek van die tropiese siekte.[54][55][56][57] Die pasiënt herstel so vinnig van sy koors, dat daar vermoed is die ondersoek in die Engelse laboratorium sou bevestig dat die man nie aan lassakoors gely het nie.[58] Die bloedondersoek gerig aan die Ryksinstituut (in Bilthoven) toon die man het gely aan 'n seldsame bosluiskoors uit Afrika, of Marseillekoors (Boutonneuse-koors).[59][60][61]

Op 19 April 1982 word berig in die hele Wes-Europa én Verenigde State was daar maar gesamentlik 10 mense al opgeneem wat aan hierdie siekte gely het.[62]

Voorvalle

[wysig | wysig bron]

Voorvalle in Duitsland

[wysig | wysig bron]

Luidens die Robert Koch Instituut (2019) is Duitsland sedert 1974 met sewe gevalle bekend, waarvan ses van buite die land afkomstig is. Daar was onder andere twee siekes (twee artse) in 1974 en 1985 onderskeidelik; twee sterftes in die jaar 2000 ('n student uit Duitsland wat in Afrika deurgebring het, en 'n Nigeriër wat vir behandeling na Duitsland gebring is), een sieke in 2006 (ingebring vanuit Sierra Leone, die oorspronklike tuiste van die pasiënt) en een sterfte in 2016 toe 'n Amerikaanse burger wat vanuit Togo na Duitsland toe ingevlieg is beswyk; by laasgenoemde is 'n kontakpersoon in Duitsland self ook besmet.[63]

Die eerste en bekendste voorval is natuurlik dr. Mandrella in Maart 1974 (sien bo).[64]

1985: 'n Dokter wat in Afrika besmet is en in Duitsland behandel word, herstel.[64]

Januarie 2000, Würzburg: Die 23-jarige kunsstudent Annegret V. sterf na afloop van 'n twee week lange stryd teen die lassakoors. Die jong vrou het op Nuwejaarsdag na haar sewe week lange Afrikareis in die Ivoorkus en in Ghana teruggekeer. Sy word met griepsimptome in die kliniek te Schwäbisch Hall opgeneem en aanvanklik vir malaria ondersoek. Eers later is sy na die afdeling vir tropiese siektes in die kliniek te Würzburg oorgeplaas. Sy sterf daar aan inwendige bloeding.[64]

En dan, 'n uitsonderlike geval.

Op Saterdag, 20 September 1997 sterf 'n 37-jarige wat, soos dit op daardie stadium gelyk het, afkomstig was van Ghana. Al die simptome lyk op Lassakoors. Volgens die Duitse polisie was die oorledene 'n asielsoeker wat duidelik met 'n vervalste identiteit en dokumente in Duitsland rondgeloop het. Hy het glo op 7 Augustus 1997 uit Accra, Ghana na Düsseldorf gevlug. Op 8 September 1997 besoek hy 'n dokter in Düsseldorf. Drie dae later is hy in die Hilgardis-hospitaal in Mainz opgeneem.[65]

Nkale se spierweefsel los op, hy bloei by elke liggaamsopening en uiteindelik ly hy aan orgaanversaking; alles moontlik duidend op Lassakoors. Die politici laat nie op hul wag nie, en maak wyd en syd alarm: hier is definitief 'n Lassakoors-voorval.[66] Maar by die nadoodse ondersoek is bevind Matsobane James Nkale is moontlik vergiftig,[64] want by die nadoodse ondersoek vind die patoloë gifreste in sy beenmurg. En, vreemd genoeg, 'n soortgelyke dood sterf iemand dieselfde maand nog op 4 September 1997 in die Pettenkofer-Instituut in München. Verdere ondersoek word gedoen oor die oorledene se doen en late. Met die naam Matsobane James Nkale op sy paspoort, kom hy in 1993 in Duitsland aan en woon in Wiesbaden. Op 20 September 1994 word sy asielaansoek verwerp en 'n lasbrief word op 17 Januarie 1997 uitgereik m.b.t. 'n deporteringsbevel. Hy verdwyn. Sy ware identiteit bly 'n raaisel. Hy gebruik ook ander dokumente met die name Amo Gyamsi en Kyei Barfour. Die Ghanese gemeenskap in Wiesbaden, waar Nkala enkele jare al woon, beskou hom op grond van sy dialek as 'n landgenoot. Dit kom ook aan die lig dat hy met vervalste Ghanese dokumente in Solingen gewerk het, waar hy metaalverfwerk doen. Hier werk hy vanaf Junie tot Augustus 1997, wat dit, ook gegewe die laboratoriumuitslae, onmoontlik maak dat hy Lassakoors in Afrika kon opgedoen het. Die polisie van Mainz beskou egter die saak as afgehandel.[66]

Voorvalle in Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Skaars 'n maand nadat die 13 (of 15) Nederlanders onder mediese toesig geplaas is (12 Januarie 1975) in Nederland (sien bo), duik die virus ook in Suid-Afrika op. In die Johannesburgse Algemene Hospitaal sterf 'n 20-jarige Australiër, Michael Hogan, aan die siekte. Ook 'n vriendin, Dianna Ozalin, is besmet terwyl sy by sy siekbed gesit het. Tien Suid-Afrikaners wat met die oorlede Australiër in kontak was, is onder kwarantyn geplaas. Paniek het ook ontstaan toe dit blyk dat daar geen enkele geneesmiddel beskikbaar is nie. Die mediese owerheid het aanvanklik die toedrag van sake stil gehou, totdat 'n wêreldwye oproep om serum of plasma gedoen is. Daar is beweer dat daar tien doses serum in die Amerikaanse Medical Research Centre in Atlanta bestaan het. Weefsel van Hogan is aan dr. Huffbaker van die instituut in Atlanta gestuur vir verdere navorsing. In Suid-Afrika is ook "koorsagtig" gesoek na meer mense wat met die Australiese toeris en sy vriendin in aanraking was.[67][68]

In 15 September 1978 verskyn 'n berig in Die Burger, wat vermeld:[69]

'n Vyftienjarige seun wat onlangs ná 'n besoek aan Nigerië ... teruggekeer het, word vir waarneming in 'n afsonderingshospitaal gehou nadat hy vermoedelik die gevreesde lassakoors opgedoen het.

In 2007 kom daar 'n staatsdokter uit Nigerië na Suid-Afrika wat hierdie virus onder lede gehad het.[70]

Radio Sonder Grense berig op 14 Mei 2022, in die 12-uur nuusbulletin van die verklaring wat op 13 Mei deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes[71] uitgereik is:

‘n Man wat vroeër die week met lassa-koors gediagnoseer is, is in ‘n hospitaal in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aan die siekte dood. Die Instituut vir Oordraagbare Siektes het gister bekend gemaak dat die man Donderdag met die virale koors gediagnoseer is. Volgens die instituut het die man ‘n uitgebreide reisgeskiedenis, wat onder meer ‘n besoek aan Nigerië insluit. Die siektetoestand is endemies aan lande in Wes-Afrika en kom meestal in Sierra Leone, Liberië, Guinee en Nigerië voor. Volgens die instituut is daar geen gevalle van sekondêre infeksie nie, maar alle moontlike kontakte van die man word fyn dopgehou.

Eienskappe

[wysig | wysig bron]

Voorkoms

[wysig | wysig bron]

Lassakoors is vernoem na die gelyknamige stad in die noordooste van Nigerië, waar die siekte in 1969 die eerste maal omskryf is. Dit kom in verskillende lande in Wes-Afrika endemies voor. Daar bestaan twee bekende endemiegebiede: die een wat Sierra Leone, Guinee, asook Liberië insluit, en die ander met Nigerië. In ander Wes-Afrikalande (bv. die Ivoorkus, Ghana, Togo, Benin, Mali, Burkina Faso) kom die siekte sporadies voor. Die meeste mense met Lassavirus-infeksies kom heel lig daarvan af, of toon geen simptome nie, wat verklaar waarom die siekte in die endemiegebiede feitlik ongesiens verbygaan. In bepaalde dorpe in die endemiegebiede word daar tot 20% van die vatbare persone, d.i. dié wat serologies negatief toets, besmet, sonder om ernstig siek te word. Op grond van hierdie data word daar geraam op 100 000 tot 300 000 mense wat jaarliks met die Lassavirus besmet word, waarvan 1 - 2% aan Lassakoors sterf. In die endemieland Nigerië sterf daar in 2019 'n rapsie meer as 22% van die laboratoriumdiagnosties gestaafde pasiënte wat behandelingsentra besoek het om mediese hulp te verkry.[63]

Voorkoming

[wysig | wysig bron]

Die huiskat kan die virusdraende knaagdiere aansienlik en konsekwent bestry en verminder. Om die besmetting met die virusdraende uitwerpsels/uitskeiding van knaagdiere te voorkom, moet die mense in die endemiegebiede aangemoedig word om hul voedsel veilig te droog en buite bereik van knaagdiere/uitwerpsels te berg. Waar moontlik moet reisigers in hierdie endemiegebiede alle aktiwiteite vermy wat hul in kontak met die knaagdiere of hul uitwerpsels kan bring.[63]

Virusdraer

[wysig | wysig bron]

Die virusdraer wat vryelik in die natuur voorkom is die knaagdier, die Natalse vaalveldmuis (Mastomys natalensis). Hoewel hierdie spesie dwarsoor die hele Afrikavasteland suid van die Sahara aangetref word, is dit tot op hede slegs dié in Wes-Afrika wat met die Lassavirus besmet is. Mastomys natalensis kom op die platteland en in en om statte en dorpies voor. In bepaalde dorpe is tussen 50-100% van dié diere draers van die virus.[63]

Patogeen

[wysig | wysig bron]

Die Lassavirus ressorteer onder die Arenaviridae. Die virusdeeltjies is polimorfies met 'n wisselende deursnee (80 tot 300 nanometer). Die virion word deur 'n lipiedomhulsel omsluit. Lassavirusse is redelik labiel (onstabiel) en kan deur verhitting teen 60ºC (1 h) onaktief gemaak word. Die Lassavirus beskik oor hoë genetiese verskeidenheid.[63]

Besmetting

[wysig | wysig bron]

Besmette knaagdiere word nie self siek nie, maar skei egter lewenslank die patogeen in hoë konsentrate, veral in die urine en ander liggaamsuitskeiding (soos liggaamsvog) uit. Die oordrag na die mens geskied gewoonlik deur besmette voedsel. Die virus kan ook deur beskadigde vel, die onbeskadige slymvlies, of deur stofdeeltjies (die opstuiwing van uitwerpsels deur wind of deur 'n vertrek af te stof/skoon te maak) deur die lugweë die liggaam binnedring. Op party plekke word die knaagdiere gevang en geëet; die vang, doodmaak en eet bring die grootste besmettingsgevaar mee.[63]

Die oordrag van mens tot mens geskied deur die aanraking met bloed, weefsel, liggaamsvog en die uitskeiding van 'n besmette persoon. Voor die ontwikkeling van die simptome is die pasiënt nie besmetlik nie. In die eerste paar dae nadat die simptome begin ontwikkel het, is die viremie (teenwoordigheid van die virus in die bloed) nog gering, sodat die aanstekingsrisiko in hierdie fase ook nog gering is. Die oordrag van mens tot mens van die Lassavirus word by die Lassakoors dikwels in die hospitaal of siekesorg (nosokomiale oordrag, of: hospitaalverworwe oordrag) waargeneem. Dit vind gewoonlik plaas deur die direkte kontak met die liggaamsvog van die pasiënt wat ernstig siek is, of van die liggaam van die oorledene. Op soortgelyke wyse is laboratoriumbesmettings ook moontlik. Buite die menslike liggaam kan die Lassavirus in die liggaamsvog nog tot 10 dae oorleef.[63]

Die duurte van die aansteking kan nogal lank wees. In die beginsel bestaan die moontlikheid om iemand aan te steek solank die virus in die speeksel, bloed of ander liggaamsvog of uitskeiding te vinde is. Die akute siektefase duur een tot vier weke. Prakties beteken dit dat 'n virusuitskeiding in die urine nog drie tot nege weke en in die semen tot drie maande kan voortduur nadat die siekte begin het.[63]

Inkubasieperiode

[wysig | wysig bron]

Die Lassavirus het 'n inkubasietyd van 6 tot 21 dae.[63]

Proefmiddele

[wysig | wysig bron]

In die meeste lande is daar geen geneesmiddel beskikbaar nie.[63]

Die meeste bekende behandeling is bloot van eksperimentele aard. Soos byvoorbeeld die toediening van die nukleosiedanaloog Ribavirin op die mens; hoe vroeër die middel toegedoen word word, hoe beter, lui die navorsing: Binne die eerste ses dae nadat die koors begin ontwikkel, kan die letaliteit (dit wil sê, die verhouding tussen die getal mense wat dood is aan 'n bepaalde siekte en dié wat daardeur aangetas is binne 'n sekere tydperk van 'n bepaalde bevolking) by die pasiënte met 'n ongunstige prognose verminder vanaf 60-80% tot 10%. Daarna is Ribavirin se uitwerking kleiner. Favipiravir is ook al aan die hand gedoen op grond van eksperimente op diere.[63]

Belangrik wel: Ribavirin word nie vir die posteksposisieprofilakse (dit is, die behandeling om 'n siekte te voorkom nadat die pasiënt aan daardie siekte blootgestel is) of as die geneesmiddel van Lassakoors aanvaar nie. Om een rede: dit gaan hier om die ongeregistreerde gebruik van die middel (d.w.s., wanneer die middel vir 'n doel gebruik word waarvoor dit nie geregistreer is nie) wat eers deeglik opgeklaar moet word.[63]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Lassa fever on the increase in West Africa, by Travel Health Pro: Public Health England, 14 Maart 2018
  2. WAT
  3. Pharos Woordeboek vir die Gesondheidswetenskappe. 2011. s.v. Lassa-koors. Tweede en uitgebreide uitgawe. Kaapstad: Pharos Woordeboeke. bl. 437.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 Limburgsch dagblad. 1970. Dodelijk virus in Nigeria ontdekt. 12 februari, bl. 4
  5. Ross I. Donaldson: The Lassa Ward: One Man’s Fight Against One of the World’s Deadliest Diseases. In: St. Martin’s Press, 2009, ISBN 0-312-37700-2, ISBN 978-0-312-37700-7.
  6. "Lassa Fever". www.cdc.gov. Besoek op 23 September 2016., Centers of Disease Control and Prevention, Atlanta, US Department of Health & Human Services
  7. Frame, J. D.; Baldwin, J. M.; Gocke, D. J.; Troup, J. M. (1 Julie 1970). "Lassa fever, a new virus disease of man from West Africa. I. Clinical description and pathological findings". The American Journal of Tropical Medicine and Hygiene. 19 (4): 670–676. ISSN 0002-9637. PMID 4246571.
  8. Frame, J. D. (1 Mei 1992). "The story of Lassa fever. Part I: Discovering the disease". New York State Journal of Medicine. 92 (5): 199–202. ISSN 0028-7628. PMID 1614671.
  9. 9,0 9,1 De Winter, S. 1974. 'Lassa-koorts kan ook dodelijk zijn voor niet-blanke patiënten. NRC Handelsblad. 22 maart, bl. 4
  10. Buckley, Sonja M.; Casals, Jordi; Downs, Wilbur G. (11 Julie 1970). "Isolation and Antigenic Characterization of Lassa Virus". Nature (in Engels). 227 (5254): 174. Bibcode:1970Natur.227..174B. doi:10.1038/227174a0.
  11. 11,0 11,1 11,2 11,3 11,4 11,5 De tijd. 1974. Nog nooit Nederlander met lassa-koorts. 23 maart: 3
  12. Van Dooren, P. 2002. Virussen en bacteriën in opmars. Leuven: Uitgeverij Davidsfonds, p. 152-153: Twee jaar later [1969] was het weer zover. Ditmaal doodde de 'nieuwe' ziekte al langer zwarten, maar ze werd pas ontdekt toen in 1969 Amerikaanse missiezusters in een ziekenhuis in het Nigeriaanse dorp Lassa ziek werden. De symptomen leken angstwekkend veel op Marburg. Het virus bleek echter niet draadvormig, maar bolvormig te zijn. Het was met andere woorden geen filovirus, maar een arenavirus. Het doodde bijna Jordi Casals, de viroloog van de Yale-universiteit die het virus identificeerde. Casals haalde het dankzij serum, zijn laborant stierf wel. Wetenschappers vingen meer dan 640 verskillende dieren rond Lassa. Bloed, longen, harten, milten en nieren werden [p. 153] naar het gespecialiseerde laboratorium van de Amerikaanse CDC gestuurd. Slechts één dier bleek positief, een gewone bruine rat, Mastomys natalensis. Zijn urine krioelde van de virussen. Mensen worden besmet via inademing van gedroogde urine of via contact met urine langs huidwondjes. Dat contact valt het slachtoffer niet op: de ratten plassen overal op en ook opgedroogde urine blijft gevaarlik. Ook al trof Lassakoorts veeleer de zwarten dan de blanken, de ziekte moet ook voor hen redelijk nieuw zijn, want Afrikanen zijn niet immuner dan blanken. Lassa is endemisch in Sierra Leone, Liberia, Nigeria en Guinea, maar eigenaardig genoeg niet in het gehele verspreidingsgebied van de rat. Jaarlijks zijn er honderdduizenden gevallen, waarvan 10% sterft. Het virus telt verschillende stammen, die al duizenden jaren onder knaagdieren moeten huizen. Wat er zou gebeuren als een besmette rat het schip of het vliegtuig kan nemen, weet niemand.[p. 154]
  13. Fraser, D. W.; Campbell, C. C.; Monath, T. P.; Goff, P. A.; Gregg, M. B. (1 November 1974). "Lassa fever in the Eastern Province of Sierra Leone, 1970–1972. I. Epidemiologic studies". The American Journal of Tropical Medicine and Hygiene. 23 (6): 1131–1139. ISSN 0002-9637. PMID 4429182.
  14. Monath, T. P.; Maher, M.; Casals, J.; Kissling, R. E.; Cacciapuoti, A. (1 November 1974). "Lassa fever in the Eastern Province of Sierra Leone, 1970–1972. II. Clinical observations and virological studies on selected hospital cases". The American Journal of Tropical Medicine and Hygiene. 23 (6): 1140–1149. ISSN 0002-9637. PMID 4429183.
  15. Van der Zee, S. 1974. Ziekentransport per Apollocapsule Nieuw virus bedreigt blanken in Nigeria. NRC Handelsblad, 20 maart, bl. 5
  16. Leeuwarder courant. 1974. Duitse arts met Lassa-koorts teruggevlogen uit Afrika. 22 maart:17
  17. 17,0 17,1 17,2 De tijd. 1974. Doodziek uit Nigerië naar huis. Duitse arts besmet met nieuw virus.
  18. Tubantia. 1974. Forse reddingsactie voor lijder aan uiterst gevaarlijke ziekte. 21 maart: 15
  19. De Volkskrant. 1974. Bonn weigerde zieke dokter op te halen. 21 maart, 5
  20. Van der Zee, S. 1974. Arts in maancapsule naar Hamburg. NRC Handelsblad, 21 Maart:5
  21. Het parool. 1974. Zieke arts na weken gered. 21 maart:5
  22. Het Parool. 1974. Doodzieke arts in Duitsland terug. 22 maart:1
  23. Algemeen Dagblad. 1974. Doodzieke arts opgehaald. 23 maart, bl. 9
  24. Nieuwsblad van het Noorden. 1974. Plastic tegen virus. 23 maart:1
  25. Limburgsch dagblad. 1974. Dokter Mandrella 'darf nicht sterben'. 23 maart, 2
  26. Nieuwsblad van het Noorden. 1974. Arts geneest van gevaarlijke ziekte. 09 april: 3
  27. Limburgsch dagblad. 1974. Een moedig man. 13 april:2
  28. Algemeen Dagblad. 1974. Besmette Duitse arts genezen. 21 Junie:9
  29. 29,0 29,1 29,2 Verbrugh, H.S. 1974. Lassakoorts - geheimzinng en spectaculair. 6 april: 4
  30. Tubantia. 1975. Lassa-koorts. 27 februari:17
  31. 31,0 31,1 31,2 31,3 Het vrije volk: democratisch-socialistisch dagblad. 1975. Lassa-gevaar niet geweken. 27 januari:5
  32. Algemeen Dagblad. 1975. 13 Nederlanders mogelijk besmet met Lassa-koorts. 16 Januarie:1
  33. Trouw. 1975. Dertien mensen onder controle op Lassakoorts. 16 januari
  34. De Volkskrant. 1975. Groep reizigers mogelijk besmet door lassakoorts. 16 januari:3
  35. Limburgsch dagblad. 1975. Brit stierf aan lassakoorts: 13 Nederlanders onder controle. 16 januari:1
  36. Gonggrijp, F. 1975. Dertien Nederlanders mogelijk met dodelijk tropenvirus besmet. De Telegraaf, 16 januari:1
  37. Leeuwarder courant. 1975. Nederlanders onder controle wegens lassakoorts. 16 januari: 7
  38. De waarheid. 1975. Dokter gestorven aan lassakoorts, dertien Nederlanders onder controle. 17 januari:5
  39. Het Parool. 1975. Controle op Lassa-koorts bij 13 Nederlanders. 16 januari:5
  40. Nieuwblad van het Noorden. 1975. Mogelijk 13 Nederlanders met Lassakoorts besmet. 16 januarie:3
  41. Het vrije volk: democratisch-socialistisch dagblad. 1975. Lassakoorts bedreigt 13 landgenoten. 16 januarie:1
  42. Gonggrijp, F. 1975. Martelende onzekerheid voor nog eens 2 Nederlanders: Angst voor Lassakoorts houdt 15 mensen in de ban. De Telegraaf, 18 januari:9
  43. Algemeen Dagblad. 1975. Geen tekenen Lassakoorts bij 13 Nederlanders. 21 januari: 1
  44. Trouw. 1975. Geen symptomen lassa-koorts ontdekt. 21 januari
  45. Het Parool. 1975. Geen symptomen van lassa-koorts. 21 januari:5
  46. De Volkskrant. 1975. Lassa-koorts uitgebleven. 21 januari:3
  47. Het vrije volk: democratisch-socialistisch dagblad. Lassakoorts blijft uit. 21 januari
  48. Nederlands dagblad: gereformeerd gezinsblad. 1975. Nederlanders niet besmet met lassa-koorts. 21 januari:4
  49. Leeuwarder courant. 1975. Geen Lassa-koorts bij Nederlanders. 21 januari:7
  50. Algemeen Dagblad. 1975. Lassakoorts was doodsoorzaak van Britse arts. 29 januari:3
  51. Algemeen Dagblad. 1981. Greep op gevaarlijke virussen. 29 september:5
  52. Trouw. 1981. Dure bedden voor patiënten. 14 Oktober:3
  53. NRC Handelsblad. 1981. Patiënt met lassakoorts opgenomen. 17 oktober:2
  54. De Telegraaf. 1981. Brit brengt dodelijk virus 't land binnen. 17 oktober:3
  55. Nederlands dagblad: gereformeerd gezinsblad. 1981. Isolatiecentrum Amersfoort heeft eerste patiënt binne. 17 oktober:5
  56. Het vrije volk: democratisch-socialistisch dagblad. 1981. 17 oktober
  57. De waarheid. 1981. Brit op vermoeden lassakoorts geïsoleerd. 19 oktober:4
  58. De Telegraaf. 1981. Patiënt heeft welllicht geen lassa-koorts. 20 oktober: 11
  59. De Telegraaf. 1981. Lassa-koorts loos alarm. 21 oktober:11
  60. NRC Handelsblad. 1981. Brit lijdt niet aan lassakoorts. 22 oktober: 3
  61. Trouw. 1981. Opgenomen man blijkt niet besmet. 22 oktober
  62. NRC Handelsblad. 1982. Isolatiebed tropische ziekten. 19 april:2
  63. 63,00 63,01 63,02 63,03 63,04 63,05 63,06 63,07 63,08 63,09 63,10 63,11 Robert Koch Institut: Lassafieber RKI-Ratgeber, besoek 15 Mei 2022
  64. 64,0 64,1 64,2 64,3 Tagesspiegel. 2000. Gesundheit Lassa-Fälle in Deutschland. 5 April.
  65. Provinciale Zeeuwse Courant. 1997. Man in Duits ziekenhuis dood door Lassakoorts. 23 September:5
  66. 66,0 66,1 Sieverdingbeck, D. 1997. Gift im Knochenmark. Focus (45)
  67. Tubantia. 1975. Paniek in Zuid-Afrika door mysterieuze Lassa-koorts. 27 februari:1
  68. Limburgsch dagblad. 1975. Slechts tien doses antistof in hele wereld: Lassa-koorts houdt Zuid-Afrika in ban. 27 januari:3
  69. WAT
  70. Lassa Fever in Travelers from West Africa, 1969–2016; Aaron Kofman, Mary J. Choi, Pierre E. Rollin
  71. NICD Imported case of lassa fever identified