Konka
’n Konka (Xhosa: inkonkxa, "blik") is ’n houer vir warm kole, dikwels in die vorm van ’n staande of hangende bak of blik. Dit word gewoonlik gebruik om ’n vuur met steenkool in te maak en verskaf hitte, maar kan ook gebruik word vir kookdoeleindes en kulturele rituele.
Konkas is op baie vroeë argeologiese terreine ontdek, soos die Nimrud-vuurbak wat ’n paar jaar gelede deur die Irakse Nasionale Museum opgegrawe is en uit 824 v.C. of selfs vroeër dateer.[1]
Geskiedenis
wysigDie Hebreeuse woord vir konka is van Egiptiese oorsprong en dit dui daarop dat dit van Egipte af ingevoer is. In die Bybel word twee keer na konkas verwys: Genesis 15:17 ("oond" in die Afrikaanse Bybel) en Jeremia 36:22-23 ("bak gloeiende kole"; "kolebak").
Die Romeinse keiser Jovianus is deur koolstofmonoksied vergiftig nadat hy in 364 in sy tent die walms van ’n konka ingeasem het, en dit het ’n einde gebring aan die afstammingslyn van Konstantyn die Grote.
Gebruike
wysigOndanks die gevare van die verbranding van kole in oop vure, word dit algemeen gebruik as ’n bron van hitte. In baie kulture is ’n unieke weergawe van die konka ontwikkel. In Suid-Afrika word 'n groterige blik, gewoonlik ’n leë paraffienblik, se wand vol gate gekap voordat ’n vuur daarin gemaak word vir verwarming of om kos te kook.[2]
Soms word die hittebron onder ’n lae tafel geplaas met komerse oorgegooi om die hitte vas te vang: die kotatsu in Japan, die korsi in Iran, die sandali in Afganistan[3] en die voetstoof in Noord-Europa. In Spanje was die brasero die hoofbron van verhitting in huise tot vroeg in die 20ste eeu.[4]
Wanneer roos- en wingerdsnoeisels gebrand word, stel dit ’n skerp, soet rook vry en dit is ook ’n goeie brandmiddel. Wanneer die dampe oorheersend raak, word aromatiese middels (laventelsaad of lemoenskille) soms bygevoeg.[5]
In Japannees word ’n oop konka ’n hibachi genoem. Dit word hoofsaaklik vir kookdoeleindes gebruik en in rituele soos die Japannese teeseremonie.
Verwysings
wysig- ↑ Russell, John M. (November 2003). "The MPs Do It Again: Two More Antiquities from the Top 30 Are Back in the Iraq Museum" (PDF). Archaeological Institute of America. Besoek op 10 Augustus 2014.
- ↑ "Konka" in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Aanlyn by viva-afrikaans.org (intekening nodig).
- ↑ Jessica Barry. "Afghanistan: Sandali stoves, a blessing and a curse" (in Engels). International Committee of the Red Cross. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Augustus 2017. Besoek op 3 Mei 2016.
- ↑ Brenan, Gerald (1957). South from Granada. Hamish Hamilton. ISBN 9780241890028.
- ↑ Ford, Richard (1845). A Handbook for Travellers in Spain. John Murray.
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Konka.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia