[go: up one dir, main page]

Rolprent

volgorde van beelde wat die indruk van beweging gee, gestoor op film

'n Rolprent of film is 'n verhaal wat uitgebeeld word deur 'n reeks vinnig opeenvolgende stilstaande beelde. Die snelheid waarmee die beelde geprojekteer word is sodanig, dat hierdie beelde, gedeeltelik deur die nawerking van elke beeld op die netvlies, blyk 'n vloeiende en aanhoudende beweging te vorm.

Die rolprent Roundhay Garden Scene, vervaardig in 1888, word beskou as die eerste rolprent.
Hierdie artikel handel oor rolprente as vermaaklikheidsvorm, vir fotografiese film, sien Film.

Rolprente is kulturele kunsvoorwerpe wat deur spesifieke kulture geskep word en daardie kulture weerspieël en ook affekteer. Rolprente word as 'n belangrike kunsvorm beskou, asook 'n bron vir vermaak en 'n metode van opvoeding. Die visuele elemente van rolprente bied 'n universele manier van kommunikasie. Sommige rolprente het wêreldwye gewildheid geniet deur gebruik te maak van onderskrifte wat die dialoog vertaal, of deur die dialoog geheel en al oor te klank.

Daar word ook na rolprente as "flieks" verwys, afkomstig van die Engelse flick of the flickers, wat na die flikkerende ligte tydens destydse rolprentvertonings verwys, of "films", wat verwys na die feit dat dit voorheen altyd deur middel van fotografiese film vervaardig was (tans is digitale opnames aan die toeneem).

Afrikaanse en Suid-Afrikaanse rolprente

By die eerste beelde wat in Suid-Afrika op film vasgelê is, is die van pres. Paul Kruger wat in 1895 in sy koets voor sy huis in Pretoria op pad Raadsaal toe is. Die Britte het ook dele van die Anglo-Boereoorlog verfilm, wat Suid-Afrika die eerste land met 'n oorlog waarna mense in ander lande kon kyk gemaak het.

Die eerste Afrikaanse rolprent was De Voortrekkers in 1916. Dit was 'n stilprent sonder klank, maar Afrikaanse en Nederlandse flitskaarte is op die skerm vertoon.

Die eerste Suid-Afrikaanse rolprente met klank was Sarie Marais in 1931. Dit was 'n musiekblyspele waarin Afrikaanse liedjies gehoor kon word. Die eerste vollengte-rolprent met Afrikaanse dialoog, Moedertjie is dieselfde jaar vrygestel.[1]

Ouderdomsperke

Alle rolprente word van 'n ouderdomsperk voorsien. Die ouderdomsperk bestaan uit 'n getal wat die minimum ouderdom verskaf, asook 'n stel letters om die inhoud te klassifiseer:

  • T – taal;
  • G – geweld
  • S – seks;
  • N – naaktheid
  • OL – ouerleiding;
  • D – dwelms;
  • V – volwasse kykstof

As voorbeeld, 'n rolprent met 'n 16TNS perk, kan slegs deur persone van 16 en ouer gesien word. Die rede hiervoor is taalgebruik, naak- en sekstonele.

Sien ook

Verwysings

  1. 116 jaar van Afrikaanse flieks, Nuus24, besoek op 13 Februarie 2013

Sjabloon:Link FA Sjabloon:Link FA